Local sportSport

Dié Hansie vlieg Protea-kleure los

’n Gr. 10-leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, Jonathan Esser (16), is ’n man wat geen bang haar op sy kop het as dit by vliegtuie kom nie.

Esser en sy pa, Jonty Esser (46), het op Vrydag 12 en Saterdag 13 Julie aan die National Air Navigation Race in Brits in Noordwes deelgeneem en ’n eerste plek in die afdeling vir navigasie behaal.

Jonathan was die navigator en Jonty die vlieënier.

“Ons mag niks anders as ’n kompas gebruik het nie en moes binne ’n vasgestelde roete vlieg wat ons binne ’n gegewe tyd moes voltooi. “Dit is eintlik ’n kompetisie vir seniors, maar ek en my pa het as span deelgeneem,” het Jonathan aan Die Pos vertel.

Die kompetisie is slegs vir vastevlerk- vliegtuie en 10 spanne het aan die wedvlug deelgeneem. Hulle het die Vrydag twee vlugte onderneem en die Saterdag weer twee in ander rigtings. Elke vlug het sowat 20 minute geduur.

Jonty het sy eie veteraanvliegtuig, ’n Cessna 150 ZU, en het al meer as 3 000 vlieg-ure agter die rug. Hy is ook gekwalifiseer as vlieginstrukteur.

Jonathan is tans besig om sy vlieglisensie te verwerf en sy droom is om agter die stuur van groot vliegtuie te wees. Hy droom ook daarvan om sy handelsvlieglisensie te verwerf en sal hom graag as instrukteur wil bekwaam.

Die Essers het danksy hierdie prestasie hul Protea-kleure verwerf — Jonty as vlieënier en Jonathan as navigator.

Hulle sal Suid-Afrika vanaf 4-14 September in Portugal by ’n internasionale kompetisie verteenwoordig.

Spikkels De Wet, waarnemende skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom, het gesê die skool is baie trots op Jonathan se prestasie.

“Mag al jou drome waar word en mag julle as wenners terugkeer huis toe.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button