Local sportSport

Hansie-matrikulant se kop staan rugby toe

Ruben Schmidt, haker van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se eerste rugbyspan, is baie opgewonde oor sy toelating om in 2020 by die Blou Bul Tuks Rugby Akademie sy toekoms in “groot” rugby te begin.

Volgens Schmidt het hy ook keuring gekry om by die Westelike Provinsie te gaan speel, maar het hy reeds by die Bulle geregistreer. “Ek moet nou net die geld kry en dan is my kop deur,” het hy gesê.

Volgens sy ma, Carol Erasmus, het Schmidt reeds as 13-jarige potensiaal getoon en ’n passie vir die spel gehad. Hy is ’n kranige speler en is vanjaar tydens die Mauritz Hansen-rugbyweek drie keer as speler van die wedstryd aangewys. “Ek is ook gekies vir die Hansieweek-span wat oorsee gaan toer, maar die kostes is baie hoog en ek kan dit nie meemaak nie,” het Ruben aan Die Pos gesê.

’n Weldoener, Leandi Maritz van Mokopane, het aan Ruben ’n kitaar wat deur verskeie bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars geteken is, geskenk en die Jacaranda FM-omroeper van die “Good morning Angels”-program, Dianne Broodryk, het onderneem om te help om die kitaar van die hand te sit sodat geld vir Ruben se rugbyloopbaan ingesamel kan word.

Erasmus het aan Die Pos gesê sy het Jacaranda FM gekontak, waarna sy en haar seun na hul ateljee is vir ’n onderhoud met Broodryk. Die sanger Chris Else het ook ’n getekende Australiese rugbytrui wat deur die spelers van die 2001-wêreldkampioenskap geteken is, aan hulle geskenk om te gebruik in hul fondsinsameling.

“My droom is om eendag vir Suid-Afrika te speel. My ander passie is mense en om mense te help. Ek wil hulle laat verstaan dat daar altyd hulp is, ongeag wat jou nood of omstandighede is,” het Ruben gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button