Rugbyklub ryg punte in
“Die telling was mooi, maar hulle was nie werklik opgewasse en sterk genoeg vir ons span nie.”
Nylstroom-rugbyklub het toeskouers tydens ’n wegwedstryd verras toe hulle ’n reusetelling teen die Amandelbult-rugbyklub aangeteken het.
Nylstroom se manne het op Vrydag 21 Junie met die blaas van die eindfluitjie reeds 88 punte aangeteken en die span van Amandelbult kon nie deur die verdediging kom om enige punte op die bord te sit nie.
“Daardie telling was mooi, maar hulle was nie werklik opgewasse en sterk genoeg vir ons span nie,” het Jannie Venter, Nylstroom-klubpresident en afrigter, gesê.
Die Nylstroom-spelers wat hul uitstekend van hul taak gekwyt het was Zandré Croukamp, in die voorry, en die agterlynspeler Tiaan Bestbier. Venter sê egter dat dit ’n spanpoging was.
Dié telling het die Nylstroom-span se kanse verbeter om in die semifinale ronde te speel en moontlik tot die finaal van die Waterberg-rugbyliga deur te dring.
Die Nylstroom-spelers moet nog op Vrydag 28 Junie hul staal wys teen die Rhino-klub van Northam en daarna sal die spanne vir die semifinaal bekend gemaak word, het Venter gesê.
Dié wedstryd vind om 20:00 op Hoërskool Nylstroom se veld plaas.
Die manne van die Kwagga-rugbyklub in Bela-Bela het egter nie hierdie seisoen al hul kanse gebruik nie en hul het reeds die stewels vir hierdie seisoen opgehang.
Chris Goosen, afrigter van die Kwaggas, het gesê: “Ons het baie goed gedoen onder omstandighede. Ja, ons sien uit om aanstaande jaar ’n verskil te maak en wil dankie sê vir almal wat betrokke was en ons ondersteun het.”