Local sportSport

Bokkieweek skop af met optog

Die Bokkieweek wat jaarliks op die velde van Hoër­skool Hans Strij­dom in Mookgo­phong aangebied word, trek duisende spelers en toeskouers tydens dié wintersport toernooi na die Waterberge.

Die 28ste Bokkieweek het op Maandag 24 Junie afgeskop en die optog van spelers het vir ’n hoendervleisoomblik onder die toeskouers gesorg. Vanjaar was daar 3380 spelers, asook afrigters en skeidsregters wat 15 unies verteenwoordig het. Leerders het meegeding in rugby, netbal en hokkie. ‘

Die geleentheid was puik georganiseer en die Verre-Noord Unie was weer eens die gasheer. Bennie Genis, president van dié unie, het die deelnemers en toeskouers tydens die openingseremonie verwelkom. Genis is ook ’n bekende inwoner van Mookgophong en was saam met Mauritz Hansen, oudskoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom, stigterslede van die eerste Bokkie-week.

Die nuutverkose president van die Afrikaanse Volkseie Sport (AVS)-organisasie, David Mey, het in sy rede gesê dat die Bokkieweek is nie polities gedrewe nie, maar is ’n kultuurorganisasie wat die Afrikanerkultuur vir die toekoms wil bewaar. Robert Gower, beheerliggaamvoorsitter van Hans Strijdom, het die gaste namens die Hansies verwelkom.

Ds. André Steinmann van die Nederduitse Hervormde Kerk in Mokopane het die byeenkoms geopen en dit was ’n aandoenlike gesig om te sien hoe elke spanlid op die rugbyveld sit en aandagtig na die boodskap luister.

Dirk van der Westhuizen het as gaskunstenaar opgetree en die skare met sy fluweelstem vermaak.

Die rugbyspanne van Verre-Noord en Hoëveld het in die openingswedstryd gespeel. Die span van Hoëveld het ’n naelbytoorwinning van 30 teenoor 26 behaal.

Groot lof en waardering is uitgespreek teenoor die organiseerders van die week. Rudolph de Vos en sy span het gesorg dat die verrigtinge seepglad verloop. ”Die reëlings, terrein se voorbereiding en die gesindheid is absoluut puik,” het ’n ouer aan Die Pos gesê.

Ds. Peter Stans van die AVS het as seremoniemeester opgetree.

Die Bokkieweek is ’n sport- en kultuurweek wat in 1991 vir die eerste keer aangebied is op die sportvelde van Hoërskool Hans Strijdom en die spanne het destyds vir die week by Klub Lekkerrus gebly.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button