Local sportSport

Bela-Bela gaan rooi tapyt vir meer as 2 000 jong rugbyspelers uitrol

Bela-Bela rol in Junie behoorlik die rooi tapyt vir van die land se topskolerugbyspelers uit.

Sowat 2 000 rugbyspelers en honderde toeskouers van regoor die land word oor ’n tydperk van vier dae in die Sonskyndorp verwag en organiseerders waarsku nou al dat gastehuise, lodges en restaurante hul vere moet regskud vir dié intog.

Die toernooi word op die velde van Hoërskool Warmbad aangebied.

Die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU), in samewerking met Hoërskool Warmbad, is reeds kliphard besig met die beplanning van die Future Blue Bulls Tournament in Bela-Bela.

Luidens ’n verklaring van die BBRU is dié sportgeleentheid begin om ’n bykomende platform vir potensiële nasionale en provinsiale rugbyspelers te skep. Dit het ook ten doel om spelers en afrigters wat op die platteland woon, aan die verskillende klubs, strukture en naskoolse instansies van die BBRU bloot te stel.

Paul Liddle, skoolhoof van Hoërskool Warmbad, het by navraag gesê hulle beoog om die aanbieding van dié toernooi ’n jaarlikse instelling te maak.

“Talle jong spelers word nie vir prestige-spanne soos die Craven- of Bokkieweek gekies nie, maar blink eers teen die einde van hul skoolloopbane op die sportveld uit. Dié toernooi is juis ’n geleentheid waar sulke spelers raakgesien kan word.”

Willem Strauss, president van die BBRU, het in die verklaring gesê bekende spelers soos Lood de Jager, Marco van Staden en Lizo Gqoboka het nie op skool rugby gespeel nie. Gqoboka het eers op 19-jarige ouderdom begin rugby speel, het hy gesê.

Dié toernooi, asook die komende Volcano o.20-superreeksliga, is platforms waar skolerugby uitgebrei kan word. Strauss en Liddle het albei gesê die keurders sal beslis op die uitkyk wees vir jong talentvolle spelers wat moontlik later by die Vodacom Bulls kan aansluit.

Volgens Strauss sal daar van o.11- tot o.19-wedstryde plaasvind.

“Ons is baie opgewonde oor hierdie geleentheid en wil dit graag as ’n gemeenskapsprojek aanbied. Ons is veral op soek na goeie akkommodasie vir al die spanne,” het Liddle gesê.

Die eerste wedstryde vind op Woensdag 19 Junie plaas en die toernooi eindig op Saterdag 22 Junie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button