Local sportSport

Waterberg se room van die oes wys hul staal by 56ste Bosveld Interhoër

Die 56ste Bosveld Interhoër-atletiekbyeenkoms waar sewe skole se atlete mekaar op Saterdag 23 Februarie op Hoërskool Warmbad se terrein die stryd aangesê het, was ’n groot sukses.

Hoërskole Ben Viljoen, Ellisras, Frikkie Meyer, Hans Strijdom, Nylstroom, Piet Potgieter en Warmbad het vroeg die oggend in volle kleur opgedaag. Die dirigente van elke skool het ná die opening hul passies uitgevoer en leerders aangepor om die gesogte sangbeker te wen.

Hoërskool Ellisras het uiteindelik as wenners uit die stryd getree nadat hulle atlete 663 punte versamel het.

 

Belowende Warrie-atleet Pule Sebolao was eerste in die 100 m en 300 m-hekkies wedlope vir seuns o.14 en het ook ’n tweede plek in verspring behaal. Foto: Herman Steyn

Frikkie Meyer (638) was tweede, Ben Viljoen derde (607), Piet Potgieter vierde (589), Nylstroom vyfde (522), Warmbad sesde (472) en Hans Strijdom sewende (432).

Frikkie Meyer het vanjaar met die sangbeker weggestap. Ben Viljoen was tweede en Warmbad derde.

Die gasheerskool, Hoërskool Warmbad, was veral in hul skik met die verowering van die prestasiebeker. Hans Strijdom was verlede jaar die wenner van dié toekenning.

 

Hoërskool Warmbad se Warrie Wolwe-dirigente het ’n asemrowende vertoning gelewer met hul aankoms. Hul het ook gedurende die dag die Warries aangevuur om hul beste te lewer. Foto: Herman Steyn

Die atleet van die dag was Tiaan Gerritsen van Ben Viljoen wat 2 553 punte op die Absa-tabel behaal het met sy drie beste items.

Die beste baanatleet van die byeenkoms was Kobi Erasmus van Ellisras wat in die 400 m hekkies vir meisies o.17 uitgestaan het en 948 punte op Absa-tabel verdien het.

Die beste veldatleet was Jadrin van Blerk, ook van Ellisras, met 1 010 Absa-punte nadat hy in die hoogspring vir seuns o.14 uitgeblink het.

 

Die Warries se Henrique Huisamen het goue medaljes behaal in die skyfwerp en gewigstoot vir seuns o.17. Foto: Herman Steyn

Die o.19-aflosse, die laaste item van die dag, het weer groot opwinding veroorsaak met Ellisras se meisie- en seunspanne wat eerste oor die wenstreep gehardloop het. In die seunswedloop was Frikkie Meyer in die tweede plek en Piet Potgieter ’n kortkop agter hulle.

 

Steratleet Danél Niemann van die Nylies het die gewigstoot-item vir meisies o.17 loshande gewen. Sy het die bestaande rekord (12,8 m) met nog ’n meter (13,8 m) verbeter. Foto: Herman Steyn

 

Nylies se vinnige baanatleet, Leonette Vosloo, het die 100 m- en 200 m-items vir meisies o.19 gewen. Foto: Herman Steyn

 

Anika Holtzhausen van die Nylies was eerste oor die wenstreep in die 100 m-item vir meisies o.15. Hierdie veelsydige atleet het ook in spiesgooi en verspring uitgeblink. Foto: Herman Steyn

 

Van krag tot krag — Hoërskool Nylstroom se leerders en dirigente het gewys dat hulle genoeg krag vir die 56ste Bosveld Interhoër saamgebring het. Die Nylies het verskeie puik vertonings op die baan en veld behaal. Hulle middelafstande was besonder goed. Foto: Herman Steyn

 

Die meisies het die bordjies verhang en Piet Potgieter was in die tweede plek met Frikkie Meyer derde.

Die meisiespan van Hoërskool Ben Viljoen het die meeste punte behaal en Hoërskool Ellisras het die seunskompetisie gewen, Piet Potgieter was tweede en Frikkie Meyer derde.

Vir Liddle kon die interhoër nie beter afgeloop het nie.

“Ek vertrou dat die geleentheid ons gemeenskap nader aan mekaar gebring het en dit almal nuwe hoop sal gee om trots te wees op ons skool, ons leerders en atlete,” het hy gesê.

 

Wilma Nel van Hoërskool Hans Strijdom het ’n eerste plek in die skyfwerp-, asook ’n derde plek in die gewigstoot-item vir meisies o.17 verower. Foto: Herman Steyn

 

Hoërskool Hans Strijdom se jong Nadia van Staden het ’n lang asem en baie stamina wat haar ’n eerste plek in die 1 500 m-item vir meisies o.14 in die sak gebring het. Foto: Herman Steyn

 

Die Hansies se Hannes Fourie het ekstra krag, momentum en tegniek in sy poging gesit en skoonskip gemaak met die spiesgooi-item (seuns o.15) wat hy gewen het. Foto: Herman Steyn

“Ek dink almal wat deel was van die reëlings, is fenominaal en ons gaan volgende jaar die ander skole gas gee.”

Liddle is verder dankbaar teenoor die Here se genade en staan daarop vas dat die Bela-Bela-gemeenskap geseën sal bly in die toekoms.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button