Local sportSport

Plaaslike skuts behaal talle kolskote

Sowat 35 skuts het die afgelope naweek die reënweer aangedurf en hul vernuftigheid tydens ’n .303-skietkompetisie gewys.

Lede van die Waterbergtak van die Bosveld Jagters- en Wildbewaringsvereniging het op Saterdag 16 Februarie die skietbaan buite Bela-Bela laat dreun.

“Die .303-kaliber is reeds voor 1880 in Brittanje ontwikkel en is nog steeds in gebruik. Dit was ’n baie gewilde kaliber en seker een van die mees algemene kalibers ter wêreld,” het Willem van Deventer van die tak gesê.

Die ontwikkeling van ander jaggewere met kalibers soos .223, .270, .308 en 30-06 en talle ander, het tot gevolg gehad dat die .303 nie meer so gewild is nie en daarom het dit al amper in onbruik verval. Nietemin word die ammunisie vir die geweer steeds vervaardig en is dit by alle wapenhandelaars beskikbaar, het hy gesê. Voorts is dit steeds ’n gewilde kaliber vir kompetisies.

Saterdag se kompetisie het uit twee kategorieë bestaan. Daar was ’n kategorie vir gewere met teleskope oor ’n afstand van 100 m en nog ’n kategorie vir gewere sonder teleskope oor 50 m. Teikens was beskikbaar teen R50 inskryfgeld en tien skote is na die teiken geskiet waarvoor ’n skut ’n moontlike 50 punte kon behaal.

Ben Scott was die wenner met 46 punte, Japie Cilliers was tweede met 40 punte en Jané Cilliers derde met 38 punte. “Baie geluk aan die drie skuts wat uitstekend in die reën geskiet het,” het Van Deventer gesê.

Vir meer inligting oor die vereniging, besoek www.bosveldjagters.co.za(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button