Local sportSport

Die tafel is gedek vir die mooiste skoleatletiek in Bela-Bela

Hoërskool Warmbad het volgens Paul Liddle, skoolhoof, reeds in 2017 begin met voorbereidings vir die 56ste Bosveld Interhoër.

Groter as ’n dorpsfees.

Dít is hoe inwoners van Bela-Bela die Bosveld Interhoër 2019 beskryf. Die byeenkoms vind op Saterdag 23 Februarie op die atletiekveld van Hoërskool Warmbad plaas.

Die jaarlikse interhoëratletiek is ’n gróót geleentheid. Elk van die sewe deelnemende skole kry elke sewende jaar die geleentheid om dié prestige-atletiekbyeenkoms by hul onderskeie skole aan te bied. Die deelnemende skole is Hoërskole Warmbad in Bela-Bela, Nylstroom in Modimolle, Piet Potgieter in Mokopane, Frikkie Meyer in Thabazimbi, Ellisras in Lephalale, Ben Viljoen in Groblersdal en Hans Strijdom in Mookgophong.

Hoërskool Warmbad het volgens Paul Liddle, skoolhoof, reeds in 2017 begin met voorbereidings vir die 56ste Bosveld Interhoër. Die hele gemeenskap het volgens Liddle gehelp om die Warries se terrein in ’n nuwe baadjie te tooi en die skool nooi die gemeenskap om tydens die byeenkoms na die mooi skole-atletiek te gaan kyk, maar ook om iets lekkers by een van die kosstalletjies te geniet of sommer net om die gemeenskap se skool te ondersteun.

Die hekke open reeds om 5:00 en die tradisionele optog van die atlete begin om 7:00. Daarna volg die amptelike opening en na afloop van die sportbelofte sal die dirigente hul verskyning maak.

Die dirigente-opkoms is een van die hoogtepunte op die program. Daar word jaarliks baie tyd en energie aan die opkoms gewy en die dirigentespanne sal poog om die toeskouers te vermaak met ’n skouspel van kleur, klank, dans en beweging.

Die eerste item op die atletiekprogram begin om 08:35 en die laaste item vind net ná 16:00 plaas, waarna die prysuitdeling op die program is.

Daar is 14 trofeë op die spel. Hoërskool Piet Potgieter is in 2018 as die algehele wenspan aangewys.

Die byeenkoms word aangebied ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika (ASA) en die prestasies van atlete word bepaal deur gebruik te maak van die Absa-2007-puntetabel.

Toegang na die interhoër beloop R20, wat ’n program vir die dag insluit. Daar is ’n volledige itemlys en terreinplan in die program en selfs die pryse van die eet- en drinkgoed word daarin aangedui.

Lees ook gerus die interhoërbylae wat in hierdie week se uitgawe van Die Pos verskyn. Die name van die sewe deelnemende skole se topatlete verskyn in hierdie bylae. Besoekers wat die interhoër bywoon, kan hierdie atlete se prestasies dophou. Die bylae bevat ook advertensies van sakeondernemings uit die sewe verskillende dorpe waarin die skole geleë is. Die advertensies is oorspronklik ontwerp en die kreatiewe bewoording waarmee die skole sterkte toegewens word, is ’n bewys dat sakeondernemings die skole in hul dorpe met trots ondersteun.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button