Local sportSport

Jukskei kry nuwe baadjie in Sonskyndorp

“Die opening van die bane by Negester is ’n belangrike oomblik in die voortbestaan van die sport.”

Die sport jukskei het ’n trotse verlede.

Nico Nel, president van Jukskei Suid-Afrika (JSA), het op Saterdag 9 Februarie meer hieroor vertel tydens die opening van die nuwe jukskeibane op die Negester-landgoed buite Bela-Bela. Talle inwoners van Negester het die geleentheid bygewoon en daar is heelwat mense wat aangedui het dat hulle lus is om by dié sport betrokke te raak.

Volgens Nel was transportryers wat ongeveer 280 jaar gelede met ossewaens rondgetrek het, op ’n dag effe verveeld en het besluit om die skeie van hul waens “rond te gooi”.

Jukskei as sport is daar langs die waens gebore.

Nel het vertel dat jukskei teen die 1930’s baie groei getoon het en in 1940 is die Suid-Afrikaanse jukskeiraad gestig.

Dié sport word vandag ook in Amerika, Namibië, Lesotho, Botswana en Mauritius gespeel.

“Die doel van enige sportsoort is om vir mense die geleentheid te gee om daaraan deel te neem,” het Nel gesê.

Jukskei is vir oud en jonk en spelers kan op sosiale vlak of aan kompetisies op distrik-, provinsiale- of internasionale vlak deelneem. Selfs skoolleerders speel deesdae jukskei.

Nel het gesê jukskei word in al nege provinsies van die land gespeel en daar is ongeveer 4 000 geregistreerde spelers landwyd.

“Ongeveer 60% van hierdie spelers is jonger as 18,” het hy gesê.

“Die reëls maak voorsiening vir spelers se verskillende fisieke vermoëns met afstande en die gewig van die skeie wat verskil.”

Sport en Rekreasie Suid-Afrika (SRSA), ’n regeringsinstansie, bied befondsing en ondersteuning aan om dié sport by skole uit te brei en subsidieer jaarliks die deelname van provinsiale spanne tydens die Suid-Afrikaanse-skolekampioenskap. Nasionale spelers wat uitstaan ontvang Protea-kleure wat deur die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASCOC) erken word.

“Die opening van die bane by Negester is ’n belangrike oomblik in die voortbestaan van die sport. Terwyl ons oral sien hoe infrastruktuur afgebreek word of tot niet gaan, sien ons hier die skepping van nuwe infrastruktuur wat kan help om dié sport se toekoms te verseker.”

Die baan is amptelik met ’n lintknipsere-monie geopen waar spelers ’n pen met ’n lint omgegooi het.

Belangstellendes wat van die baan gebruik wil maak, kan vir Flip Snyders bel by tel. 082 800 1875.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button