Local sportSport

En hoor jy die magtige dreuning?

Bela-Bela-inwoners is deesdae oor naweke en skoolvakansies bewus van die ekstra gedreun van motorfietse in die dorp.

Die Pos het onlangs navrae van lesers oor dié soms ontydige gebrul ontvang en so ’n bietjie gaan ondersoek instel.

Die gedreun is skynbaar die gevolg van ’n nuwe motorfietsklub wat in Oktober 2018 vir motorfietsaanhangers gestig is. ’n Lid van die groep, wat verkies het om anoniem te bly, het aan Die Pos gesê die groep staan bekend as die Biker Mice-motorfietsgroep.

Volgens die lid is daar talle mense, oud en jonk, wie se motorfietse stof opgaar. Daar is volgens hulle nie ’n grond- of hindernisbaan in die omgewing waar hulle kan gaan stoom afblaas nie.

“Dit is glad nie lekker om alleen motorfiets te ry nie. Sedert die groep se ontstaan, het 32 lede aangesluit met party wat meer gereeld wil ry as ander,” het die lid gesê. “Die groep is vir avontuurlustiges wat deel van ’n familie wil voel.”

Die groep ry meestal met motorfietse wat doelgemaak is vir grondpaaie en hindernisbane. Die lid het gesê baie van hul lede is skoolleerders wat nog nie vir motorfietslisensies kan aansoek doen nie en daarom nie op openbare paaie mag bestuur nie.

Die groep het vir hulself ’n baan by die voormalige Royal Northlands-gholfbaan gemaak. Die gholfklub staan verlate nadat planne om ’n luukse gholflandgoed daar te ontwikkel bykans twee dekades gelede gesneuwel het.

“Baie lede ry hulle motorfietse aan met bakkies, want hulle sal moeilikheid kry as hulle dit deur die dorp tot daar of ander plekke bestuur. Ons het net gevoel dat die ou gholfbaan ’n lekker plek is om te ry. Die plek is heeltemal verlate en mense laat selfs hulle beeste daar wei.”

Die groep was egter verbaas toe die motorfietse se gebrul inwoners begin pla het.

Die lid het gesê hulle het simpatie met die klaers, maar hulle doel is om jongmense besig en weg van kattekwaad te hou.

“As jy nie ’n valhelm dra nie, mag jy nie by die groep aansluit nie. Geen drank word toegelaat nie en elkeen moet omsien na sy of haar eie veiligheid. “Wanneer die gemeenskap die motorfietse oor naweke en vakansies hoor, moet hulle weet dit is jongmense wat hulself positief besig hou.”

Die groep het egter geen amptelike reëling om die gholfbaan te gebruik nie en is bereid om na einge voorstelle te luister oor ander beskikbare plekke, het die lid gesê.

Die lid het gesê indien mense wil aansluit by die groep, moet hulle net luister na die gebrul en kom kennis maak.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button