Local sportSport

Ratse raakvatters gesoek vir Waterberg-raakrugby

Rugby-aanhangers wat glo dat hulle genoeg spoed en die nodige vaardigheid het om ’n ander speler se raakvat te vermy, sal bly wees om te hoor dat daar ’n raakrugbyliga (touch rugby) vir die Waterberg-omgewing beoog word.

Abri Venter, sportafrigter en sakeman van Bela-Bela, het aan Die Pos gesê hy wil só ’n liga op die been bring nadat hy vir vier jaar by die Touch Fever-rugbyklub in Pretoria betrokke was.

Venter was in 2017 die afrigter van die Raptors-span wat as wenners van daardie jaar se liga uitgetree het. Hy was ook in 2018 die bestuurder en afrigter van die Gauteng-Noord-binnenshuise krieketspan. Sy dogter, Izandia, speel tans vir die Titans vroue B-krieketspan.

In raakrugby moet ’n span spelers hul teenstaanders uitoorlê deur die bal te bekom deur ’n speler slegs aan te raak. Geen speler word geduik of getrap tydens sulke wedstryde nie en juis daarom moet spanne vinnig en doeltreffend saamwerk om die ander span se hande te vermy en die bal oor die doellyn te kry.

Venter beoog om belangstelling by spelers in Bela-Bela en die omliggende omgewing te kweek en hulle te motiveer om aan dié sport deel te neem.

Mans en vroue kan deelneem. Raakrugby maak spelers fiks, leer hulle om as ’n span saam te werk en dit is ook ’n sosiale geleentheid om mense bymekaar te bring,” het Venter gesê.

Volgens hom is daar 10 spelers in ’n span. Vyf is op die veld en die ander langs die veld. Hulle wissel mekaar gereeld af tydens ’n halfuur lange wedstryd —15 minute aan elke kant — en daar is ’n vyf minute breek.

“Spelers met talent kan op provinsiale en selfs nasionale vlak meeding. Daar is baie groeipotensiaal in hierdie sport.”

Hy beoog om die liga in Februarie te begin. Enigeen, jonk of oud, kan inskryf.

Selfs gemengde spanne van mans en vroue, meisies en seuns en sakelui, kan ook ’n span opmaak.

“Sodra die belangstelling voldoende is, sal uitdunne gehou word om te sien watter spelers in watter afdeling sal speel,” het hy gesê. “’n Tipiese ligaseisoen duur gewoonlik nege tot 12 weke en word jaarliks gespeel,” het Venter gesê.

Die wenners van ’n liga ontvang medaljes en hul resultate word op die klub se webwerf geplaas.

Die wenspanne kan ook kontantpryse wen.

Daar het verlede jaar ongeveer 36 spanne van regoor Pretoria aan die Touch Fever-liga deelgeneem.

Skeidsregters moet kwalifiseer en daar word opleiding verskaf aan diegene wat belangstel om skeidsregters te wees.

Daar is nog nie ’n naam vir die beoogde liga nie. Venter vra die publiek vir voor-stelle vir ’n gepaste liganaam.

Vir navrae en om deel te neem, bel vir Venter by tel. 081 411 9051.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button