Local sportSport

Dié manne weet hoe om te ‘drop, place en score’

Die manne van die Naboomspruit-rugbyklub het vanjaar hul slag gewys ná vier jaar sonder ’n rugbyspan.

Die klub het die jaar afgeskop deur aan die Potties-rugbyklub se tiene-toernooi deel te neem. Ná ’n naelbyt-eindronde teen die tuisspan het die Naboommanne as naaswenners uitgetree.

Die eerste span het ook gekook tydens die Waterbergliga (wat spanne insluit soos Loskop, Mogol, Naboom-spruit, Nylstroom, Thabazimbi, Vaalwater en Warmbad). Hulle het slegs een van hul 12 ligawedstryde verloor en bo-aan die punteleer geëndig op die vooraand van die finaal. Uiteindelik het hulle die seisoen as naaswenners in die Waterberg-liga afgesluit.

 

Lebu van Heerden (voorspeler van die jaar).

 

Die klub het ook hul eie sewesrugbytoernooi, in samewerking met die Euphorbia-skool aangebied. Agt spanne waaronder groot klubs soos Northam, Letaba en Noordelikes het deelgeneem en Naboom-spruit het as plaatwenners uitgetree.

Die dorp is baie trots op hierdie manne wat gewys het dat hulle ondanks hul lang afwesigheid nog steeds gedugte teenstanders is.

Naboomspruit-rugbyklub bedank al hul borge en ondersteuners vir groot bydraes tot ’n suksesvolle seisoen.

Die klub is reeds besig met voorbereiding en beplanning vir aanstaande jaar se rugby en wil verder uitbou op die prestasies van 2018. Indien daar spelers is wat belangstel om aan te sluit by die klub, kan hulle vir Johan van Heerden bel by tel. 072 054 9663 of Martin van Heerden by tel. 076 597 5051.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button