Local sportSport

Gim­nas­tiek­af­ri­gter kry toe­ken­ning by ad­junk­mi­nis­ter

’n Groot eer het Petro von Allemann, veteraangimnastiek- en tuimelafrigter van die Warmbad gimnastiek- en tuimelklub, te beurt geval toe die adjunkminister van sport op Maandag 1 Oktober ’n spesiale toekenning aan haar oorhandig het.

Die toekenning, wat haar vir 50 jaar se bydrae tot gimnastiek vereer, is tydens die opening van die SA Spele in Pretoria deur Gert Oosthuizen, adjunkminister, oorhandig.

Haar gimnastiekklubouers en gimnaste het veral breëbors gestaan toe sy die toekenning ontvang het.

Von Allemann het aan Die Pos vertel dat haar gimnastiekloopbaan in 1967 by Hoërskool Warmbad begin het.

Drie van haar gimnaste is in 1969 vir die destydse Noord-Transvaalse Gymnaestrada-span gekies wat in Brasilië en Switserland deelgeneem het.

Daarna was sy organiseerder en afrigter van vier gymnaestradaspanne wat Limpopo verteenwoordig het tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskap.

Hierdie groep het onder meer in Duitsland, Swede en Oostenryk deelgeneem, het sy gesê.

Von Allemann het vanaf 1969 op die destydse Verre-Noord Gimnastiekkomitee gedien en was later voorsitter van die Noordelike Provinsie en toe voorsitter van Limpopo Gimnastiek.

Sy was voorsitter van Limpopo Gimnastiek tot in 2017 en het Limpopo op die Suid-Afrikaanse Gimnastiekfederasiekomitee verteenwoordig.

Sy is veral trots op ’n hele paar Suid-Afrikaanse kampioene wat sy afgerig het.

Vanjaar het vyf van haar tuimelgimnaste as Suid-Afrikaanse kampioene uitgetree en drie gimnaste het die Federasiespan gehaal wat teen ander Afrika-lande meegeding het.

Die klub se betrokkenes het in ’n boodskap ná die toekenning gesê dat hulle voorwaar trots op haar is en gelukkig is om haar as afrigter te hê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button