Local sportSport

Francois maak skoonskip by Limpopo-gholfunie-ope

Francois se sege het daartoe gelei dat hy nou die nuwe Limpopo junior kampioen is en ook die eerste speler wat die stroke and match-spel gewen het.

Jong en ywerige gholfspelers van Limpopo het hul slag gewys tydens die Limpopo-gholfunie junior ope wat van 4-7 Oktober in Polokwane aangebied is.

Vir een oud-Warrie, Francois Jansen van Rensburg (16) van die Zebula-gholfklub, het die week veral goed verloop.

Francois is ’n leerder aan TuksSport High School se High Performance Centre in Pretoria.

Jean Sadie van die Limpopo-gholfunie, asook Sadie’s Gholf Academy, het by navraag gesê hierdie kompetisie is tans die grootste junior kompetisie in die provinsie waaraan spelers met én sonder ’n voorgee kan deelneem.

Francois het aanvanklik aan vier rondtes wat oor 72 putjies gespeel is, deelgeneem.

Declan Brews van die Kameeldoring-gholfklub was voor in die eerste rondte, waarna Heinrich Laas van die Polokwane-gholfklub in die tweede rondte vooruit gespeel het.

In die derde rondte was Christo Steers van die Polokwane-gholfklub en James Vorster van die Tzaneen-gholfklub gelyk op die telbord, met Francois wat kort op hul hakke was, het Sadie gesê.

In die vierde rondte het Francois almal verras en as algehele wenner uitgetree met 317 punte. Christo was tweede met 318 punte en James derde met 321 punte.

Nog ’n uitspeelrondte het gevolg waar die top 12 spelers teen mekaar gespeel het.

Francois het oor twee rondtes teen Phetolo Mahlo van die Polokwane-gholfklub en Paul Mawasha van die Hans Merensky-gholfklub meegeding en hulle gewen.

Hy het toe in die finale rondte oor 26 putjies teen Christo en Declan uitgespeel en weer as topgholfspeler uitgetree, het Sadie gesê.

Francois se sege het daartoe gelei dat hy nou die nuwe Limpopo junior kampioen is en ook die eerste speler wat die stroke and match-spel gewen het, het Sadie gesê.

Francois is gekies vir die Limpopo-gholfunie se o.19-span.

Die span gaan van 17-21 Desember by die Benoni Country Club teen ander spanne van regoor die land meeding.

Die Limpopo-span bestaan tans uit James Vorster (kaptein), Paul Mawasha, Declan Brews, Jan Hendrik Nieuwoudt, Thulani Mathebula, Christiaan Young, Christo Steers en Francois Jansen van Rensburg.

“Die spelers het puik talent op die baan getoon en ons sien uit om vir Francois deel van die o.19-span te hê,” het Sadie gesê.

Die meeste van die span se spelers is ook geaffilieer met Sadie’s Gholf Academy.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button