Local sportSport

Meer as 800 wedvlugduiwe gaan vlerke in en om Bela-Bela klap

“Die duiwe kan sover as 700 km per dag in en om Bela-Bela vir oefening aflê.”

Meer as 800 duifkuikens wat uitgebroei is om aan wedvlugte deel te neem, gaan die Bela-Bela-omgewing binnekort hul tuiste noem totdat hulle gereed is om die hon-derde kilometer te vlieg.

Bouwerk aan reusehokke om al die duiwe te huisves, vind op Frank Ferreira se grond, tans bekend as Sonskyn One Left (SOL), buite die dorp plaas. Die duiwe wat verwag word, kom van regoor die land, asook van België, Holland en Duitsland.

Ferreira het aan Die Pos gesê die doel daarvan om die duiwe in Bela-Bela te huisves, is om die voëls vir kompetisies te sentraliseer en hulle die geleentheid te gee om by hierdie soort klimaat aan te pas vir toekomstige wedvlugte.

Wedvlugte is bekend as ’n multimiljoen-randbedryf en –sport. Eienaars kan die duiwe teen duisende rand verkoop en selfs miljoene tydens kompetisies wen.

Charl Stander, ’n Modimolle-inwoner van die Sonskynduiweklub, het juis vanjaar R2 miljoen met een van sy topduiwe gewen tydens die wêreldbekende Million Dollar Pigeon Race wat langs die Vaalrivier gehou is. Dié wedvlug vind elke jaar in Februarie plaas.

Ferreira het gesê die groot aantal duiwe wat hulle sal huisves word met aankoms afgesonder. Die voëls sal sekere voer- en oefenprogramme volg en hulle sal aan hul eienaars en die hokke gewoond gemaak word. So ook aan die hokke waaruit hulle vrygelaat sal word vir wedvlugte, het Ferreira gesê.

“Die duiwe kan sover as 700 km per dag in en om Bela-Bela vir oefening aflê,” het hy gesê.

Duiwesport het volgens Ferreira baie terapeutiese waarde en het al selfs dwelmverslaafdes gehelp om weer sin in die lewe te vind. “Dit is werklik ’n wonderlike gevoel wanneer ’n duif die wil het om terug te keer na sy eienaar se hokke.”

Die meeste wedvlugkompetisies vind op Sondae plaas. Ferreira het gesê hy wil graag die hele gemeenskap betrek en van die geld wat genereer word, vir liefdadigheidsdoeleindes aanwend.

“Ons beoog om die plaaslike skole binnekort met die idee te nader om jong mense by hierdie sport te betrek en hulle ook te laat deelneem,” het Ferreira gesê.

Hulle beoog ’n webtuiste en Facebook-blad oor die projek vir belangstellendes wat meer wil weet oor wedvlugduiwe.

Volgens Ferreira is sy hokke by die Suid-Afrikaanse nasionale posduiforganisasie (Sanpo) geaffilieer is. Stander het ingestem om die hokbestuurder op die perseel te wees en gaan help om die duiwe op te lei, het Ferreira gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button