Local sportSport

Jong atleet is Nylies se trots in Frankryk

Wat ’n ongelooflike ervaring!

Danél Niemann, ’n jong atleet van Modimolle, het gesê haar deelname aan twee internasionale byeenkomste in Europa in Julie het haar ’n nuwe waardering vir sport gegee.

Danél, wat in Maart 16 jaar oud geword het, het in die o.18-ouderdomsgroep tydens die twee byeenkomste in Aix les Bains en Oyonnax in Frankryk deelgeneem.

Sy het by die eerste byeenkoms ’n goud in gewigstoot behaal en ’n brons in diskus en tydens die tweede byeenkoms het sy ’n silwer medalje vir gewigstoot gekry. Altesame 40 van die land se top-opkomende atlete is genooi om van 27 Junie tot 11 Julie aan die byeenkomste deel te neem.

Danél was vanjaar agtste by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in die gewigstoot vir meisies o.17 met ’n afstand van 13.66 m. Haar beste afstand is 15.8 m.

Die span atlete het tydens hul besoek afrigting van professionele atlete en afrigters ontvang. “Ons het bekendes soos Caster Semenya en die gewigstoot- wêreldkampioene Michelle Carter en Thomas Welsh ontmoet,” het Danél gesê. Hulle het ook die groot Diamantliga-atletiekbyeenkoms bygewoon.

Sy het gesê sy het haar verstom aan die verskillende atlete se uiteenlopende tegnieke met gewigstoot en diskus. Haar oë blink as sy vertel van hoe die sportvelde lyk.

“Dit is baie stil en skoon. Die velde is goed ingerig en gevorderde tegnologie word oral gebruik.”

Benewens die atletiek, het die jong Suid-Afrikaanse sportsterre ook die geleentheid gekry om Disneyland te besoek en aan die verskillende kossoorte te smul.

Die besoek het duidelik die jong Danél se lus om weer op internasionale vlak deel te neem, aangewakker.

“Ek gaan nou nóg harder moet werk om weer op dié vlak deel te neem. Ek het geleer dat harde werk vrugte afwerp — kyk na die vordering wat ek gemaak het!”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button