Local sportSport

Jong boksers laat hul vinnige vuiste geld

Twee jong boksers van Modimolle is slaggereed om hul vernuftigheid met die vuiste in die bokskryt te bewys.

Wayne Lottering (20) maak op Saterdag 28 Julie sy buiging as professionele bokser in die junior middelgewigafdeling tydens die Sweet Science for Ghetto Greatness by die Kagiso Memorial & Recreation Centre.

Hy kom teen Sipho Dladla te staan.

Die 19-jarige Karabo Mokupi, wat by Phagameng High School skoolgegaan het, kom teen Johannes Lesiba in die ligswaargewig-afdeling te staan.

Dit is Mokupi se tweede professionele boksgeveg nadat hy in April sy debuut teen die bekende bokser Michael Markram gemaak het.

Mokupi het die geveg met punte verloor.

Daar word by die byeenkoms meegeding om die Internasionale Boksfederasie se junior- en veergewigtitel en die Suid-Afrikaanse liggewigtitel.

Lottering en Mokupi word albei deur Peet Oberholzer en sy assistentafrigter, Donald Khoza, by Obie’s Boxing and Fitness Academy in Modimolle afgerig.

Oberholzer het gesê hy mik daarna om die wêreldtitel na dié dorp te bring.

Lottering het vertel dat sy boksloopbaan op 16-jarige ouderdom sonder sy ouers se medewete begin het.

“Hulle wou gehad het dat ek eerder rugby moes speel, maar ek het ’n talent vir boks gehad en kon nie daarvan wegbly nie. Elke keer as ek ’n beker gewen het, het ek dit agter in my kas gaan wegsteek om uit die moeilikheid te bly.”

Toe hy egter in 2016 by sy klub aangewys word as amateurbokser van die jaar moes hy met die sak patats vorendag kom.

Sy onderwysers het geweet dat hy boks, maar sy ouers was in die duister.

“My pa was eers baie kwaad, maar nadat hy na my gevegte kom kyk het, was hy trots,” het Lottering vertel.

Mokupi het gesê hy het op 12-jarige ouderdom begin boks toe Khoza gesien het dat hy talent toon.

“Ek voel reg vir die geveg wat voorlê. Dit is die geveg waarvoor ek gewag het,” het hy vol selfvertroue gesê terwyl Khoza sy hande opbind sodat sy bokshandskoene aangetrek kan word.

Mokupi is volgens Oberholzer ’n aggressiewe bokser en hy mik vir uitklophoue. Lottering, daarenteen, is ’n taktiese bokser.

Dié jongelinge se vordering kan op die webwerf www.boxrec.com dopgehou word wat die uitslag van professionele boksgevegte, asook ’n bokser se geskiedenis, aandui.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button