Local sportSport

Hansies blink uit in Landsdiens

’n Paar van Hoërskool Hans Strijdom se leerders het tydens die Limpopo provinsiale Landsdiensstreekkamp, wat van 8-11 Julie by Badseloop-jeugkamp buite Mookgophong gehou is, goed presteer en toekennings ontvang.

Sowat 60 hoërskoolleerders van regoor Limpopo het die streekkamp bygewoon.

Die leerders is tydens die kamp deur verskeie fasiliteerders geëvalueer om hul verskillende Landsdiens-toekennings te verwerf. Carla van der Walt en Jolindie Booysen het goue prestasies verwerf en Macayla Treurnich, Heima Pretorius, Elanie van der Walt en Anzelle Zeelie, het silwer prestasies verwerf.

Aan die einde van die kamp is gr. 8-9-leerders gekies om die nasionale kamp vir junior hoërskoolleerders, wat aan die einde van die jaar plaasvind, by te woon. Die gr. 10-12-leerders is gekies om na die senior nasionale kamp te gaan. Albei kampe vind van 8-12 Desember in Jeffreysbaai plaas.

Carla is gekies vir die senior kamp terwyl Elanie en Anzelle gekies is vir die junior kamp.

Die nasionale kampe word deur al die verskillende provinsies regoor Suid-Afrika bygewoon. Mia Koorzen en Jolindie is gekies vir die interprovinsiale kamp wat in Desember by Kwalata naby Rust de Winter gehou word.

Zanli du Preez, onderwyser by Hans Strijdom, het haar klubleiertoekenning ontvang en Riana Potgieter, ook ’n onderwyser by die Hansies, het die goue Springboktoekenning verwerf.

Related Articles

Back to top button