Local sportSport

Modimolle se sterkman lei Suid-Afrikaanse span

Henning was in sy loopbaan Suid-Afrikaanse junior-, senior- en meestergewig-optel- en kragoptelkampioen.

’n Sterkman van Modimolle beoog om binnekort skouers te skuur met die wêreld se sterkstes.

Die 61-jarige Koos Henning hou tans 12 Suid-Afrikaanse gewigoptelrekords in verskillende ouderdoms- en gewigsklasse.

Dié bekende in plaaslike fiksheidskringe is as Suid-Afrika se afrigter en bestuurder na die wêreldkampioenskap in meestersgewigoptel genooi.

Dit word in Augustus in Barcelona, Spanje, gehou.

Die meestersafdeling is vir gewigoptellers van 35 jaar en ouer.

Altesame 1 000 gewigoptellers van meer as 50 lande sal aan vanjaar se kampioenskap deelneem.

Henning was die afgelope drie jaar een van die top ses op verskeie wêreldmeesterskampioenskappe en beoog om vanjaar weer deel te neem.

Hy het gesê daar is ’n verwagting dat Suid-Afrika vanjaar onder die top 10 kan eindig.

Henning is ’n fiksheidsgeesdriftige wat glo aan kort, maar harde oefensessies wat met hoë intensiteit bereik word.

Dit pas gelukkig in by sy beroep aangesien hy ’n persoonlike fiksheidsafrigter by sy eie gimnasium is waar hy kliënte inspireer.

Henning was in sy loopbaan Suid-Afrikaanse junior-, senior- en meestergewig-optel- en kragoptelkampioen.

Hy het op Saterdag 19 Mei aan die Arnold Classic Africa-byeenkoms deelgeneem waar hy drie Suid-Afrikaanse rekords verbeter het. Hy het ’n goue medalje ontvang en is as algehele beste meestergewigopteller uit alle gewig- en ouderdomsklasse aangewys.

Meestersgewigoptel is tans een van die gewildste sportsoorte in die ou Oosblok-lande en in groot dele van Europa.

Henning het reeds op skool begin met gewigoptel en was as kind al gefassineer deur kragsporte.

“Gewigoptel het my geleer dat enigiets moontlik is met harde werk. Dit is belangrik dat swaar gewigte vreesloos benader moet word. Miskien is dit die belangrikste karaktertrek wat ek oor die jare ontwikkel het,” het hy aan Die Pos gesê. Sy doel is om vir jong sportmanne te wys dat prestasie sonder steroïdes moontlik is, vir ouer mense te leer dat hulle nog jonk genoeg is om uitdagings te aanvaar en om ’n gesonde leefstyl te verkondig. “Ek beskou myself as ’n Christen-sportman en doen my bes om goeie waardes en norme aan my leerders oor te dra.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button