Local sportSport

Nylies is trots op Danél!

’n Jong atleet van Modimolle pluk die vrugte van baie ure se toegewyde oefening.

Danél Niemann is gekies om deel te wees van ’n groep van die land se top 40 opkomende atlete wat van 27 Junie tot 11 Julie in Frankryk, Switserland en Duitsland sal deelneem.

Danél, wat in die o.16-ouderdomsgroep deelneem, was vanjaar agtste by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in die gewigstoot vir meisies o.17 met ’n afstand van 13.66 m. Dié leerder van Hoërskool Nylstroom het tydens die interhoër die meisies o.16-gewigstootrekord, wat al 47 jaar lank staan, met ’n afstand van 13.33 m verbeter. In haar gr. 8-jaar het sy niks minder nie as 42 goue medaljes, 15 silwer en tien brons medaljes ingepalm.

Sy is baie opgewonde oor die geleentheid om internasionaal deel te neem. “Ek was nog nooit oorsee nie en dit gaan ’n wonderlike ervaring wees,” het sy aan Die Pos gesê. Sy droom daarvan om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem. Haar persoonlike beste afstand is ’n indrukwekkende 15.8 m.

Danél word deur haar pa, Michael Niemann, afgerig wat op sy dag self ’n Suid-Afrikaanse 100 m-atleet was.

Sy vertel dat sy per toeval aan gewigstoot begin deelneem het. “Ek hou niks daarvan om te hardloop nie en het atletiek vermy. In my gr. 5-jaar by Laerskool Nylstroom moes ons aan atletiek deelneem en ek het besluit om dan maar gewigstoot te probeer. Ek het derde geëindig met die uitdunne. Die jaar daarna het ek die rekord verbeter en die jaar dáárna was ek derde by die Suid-Afrikaanse-kampioenskap,” het sy laggend vertel.

“Gewigstoot het my geleer dat dinge nie sonder ’n rede gebeur nie. ’n Mens moet hard daarvoor werk en as ’n mens sukses bereik, moet jy nóg harder werk om die sukses te behou.”

Sy is nie bang vir hard oefen nie en bestee ses dae van die week twee uur per dag in die gimnasium en nog twee uur op die baan. “Op Sondae rus ek!”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button