Local sportSport

Hoërskool Warmbad verwelkom nuwe sporthoof

Hoërskool Warmbad het Johan Loubser, die skool se nuwe hoof oor sport en bemarking, op Maandag 28 Mei by die skool verwelkom.

Hy sal geen klasse aanbied nie en is daar om sport by die skool te ontwikkel, het Paul Liddle, skoolhoof aan Die Pos gesê.

Loubser is oorspronklik van Mbombela en is al vir 28 jaar in die onderwys betrokke.

Hy het sy onderwysloopbaan by Hoërskool Belfast in Mpumalanga begin.

Sy loopbaan het hom onder meer na Engeland gelei waar hy in Sussex, Kent en The Isle of Man skoolgehou het.

Loubser het die skool se eerste rugbyspan, krieketspan en gholfspan by die Ballakermeen High School in The Isle of Man afgerig.

Hy het in 2014 na Suid-Afrika teruggekeer en deel van die Boland-gholfunie geword. Hy het daarna ’n bestuurspos by die De Villiers-Graaff-sportakademie aanvaar. Dié skool het in 2016 met hom as afrigter as die Suid-Afrikaanse gholfkampioene uitgetree.

Loubser het sy seun, die speler Herman Loubser, afgerig. Herman is volgens sy pa tans die jongste professionele gholfspeler in die land en het op 16-jarige ouderdom Springbokstatus bereik.
Loubser het groot planne en drome vir Hoërskool Warmbad.

“Ek is hier om die koshuis weer vol te kry, om met die gemeenskap en rolspelers kennis te maak, om sport by die skool tot ’n nuwe vlak te neem en om die gemeenskap trots te maak op hul tuisskool,” het hy gesê.

“As dinge goed gaan, sal leerders uit die stede nog hiernatoe gestuur word,” het hy gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button