Sport

Sidney Tobias volg in sy pa se voetspore

“Wanneer ’n mens verby stereotipes kyk kan jy baie meer dinge regkry.”

Met hierdie woorde het Springboklegende Errol Tobias in 1981 kritici se monde gesnoer toe hy op 30 Mei daardie jaar uitgedraf het teen Ierland.

Hy was die eerste nieblanke speler wat die groen en goud gedra het — ’n Springbok van formaat.

Vandag, 40 jaar later, is dit egter nie Errol se naam wat op almal se lippe is nie, maar dié van sy seun, Sidney (32), wat onlangs genooi is om deel te word van die Blou Bulle se 2021-Curriebekerspan.

Sidney Thobias in aksie.

Sidney Tobias, kaptein en haker van die Northam Rhino’s-rugbyklub (NR), is een van die eerste plaaslike rugbyspelers in meer as ’n dekade wat vir professionele rugby gekies word.

Volgens Pierre van Jaarsveld, wat die afgelope drie jaar sy afrigter by die NR-klub was, is daar min spelers wat dié pluimpie meer verdien as Sidney.

“Sidney is nou drie jaar by die Rhinos-klub en in dié tyd het ons hom leer ken as ’n speler wat lei deur sy voorbeeld,” het Van Jaarsveld aan Die Pos gesê.

“Hy plaas altyd sy klub en spanlede voor homself.”

As matriekleerder by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch kon Sidney vroeg reeds sy Springbok-pa se rugbystewels vol staan en sy talent, deursettingsvermoë en liefde vir die spel het hom gelei na ’n belowende rugbyloopbaan. As skoolseun het hy vroeg reeds die Westelike Provinsie op die veld verteenwoordig en is gekies as lid van die o.16- en o.18-Cravenweek-span.

Sidney is die seun van die Springbok-legende Errol Tobias.

Dit het ook gelei tot ’n latere rugbyloopbaan in Italië. Hoewel hy in provinsiale klubrugbykringe alombekend is vir sy vaardighede en nou ook deur die keurders raakgesien word, is Sidney ’n ongelooflike nederige rugbyspeler wat daagliks werk om homself en sy spel te verbeter, het Van Jaarsveld gesê.

“Hy werk baie hard aan sy eie spelpeil en fokus daarop om so min as moontlik foute te maak. Hy staan elke oggend om 04:00 op om voor werk te oefen en wanneer dit oefentyd is, is hy gewoonlik ’n uur voor die tyd al in die gimnasium besig met opwarming,” het Van Jaarsveld verduidelik.

Hoewel Sidney reeds in sy dertigs is, kan hy nog kers vashou by jong spelers en dien hy as rolmodel.

“Die grootste les wat ek by Sidney geleer het, is dat dit nooit te laat is om jou drome te bereik nie,” het sy afrigter gesê.

Vir Van Jaarsveld en die res van die Northam Rhino’s-span was elke minuut wat hulle saam met hom op die veld deurgebring het ’n groot eer en hulle wens hom sterkte toe met die nuwe fase in sy loopbaan.

My boodskap aan hom is:

“Glo in jouself. Jy is goed genoeg en jy hoort op nasionale vlak. Speel altyd asof daar nie ’n môre is nie en onthou ons leuse: If it is meant to be, it is up to me. Maak dit jou leuse in alles wat jy doen en die res sal in plek val.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button