Sport

Jong Warrie op pad na Spanje se hokkievelde

Rikus Labuschagne (17), ’n leerder aan Hoërskool Warmbad, kon dit nie glo toe hy tydens die onlangse Bokkieweek wat by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong plaasgevind het, vir die Afrikaanse Volkseie (AVS) nasionale seunshokkiespan (o.18) gekies is nie.

Die Bokkieweek is van 25-28 Junie gehou en spanne met spelers van oor die hele provinsie het meegeding.

Rikus, wat ’n middelveldspeler is, gaan in September saam met die Suid-Afrikaanse span in Spanje toer. Die Europese manshokkieliga is besonder mededingend.

“Dit is die eerste keer dat ek oorsee gaan reis en dit bly ’n fantastiese en soms onwerklike gevoel.”

Die reisplan, wat oor 10 dae strek, sal volgens Rikus drie of vier wedstryde per dag insluit wat hulle teen verskillende Europese klubs sal speel. Die ander dae sal hulle oefen- en afrondingsklinieke bywoon om hul vaardighede te verbeter.

“Ek dink die toer is goeie blootstelling. Dit sal my vaardighede ontwikkel en dan is daar ook die moontlikheid van ’n sportbeurs,” het hy gesê.

“Die Europese spelers het so baie tegnieke wat ek graag sal wil aanleer en ek weet dat ek daarby baat kan vind.”

Die AVS-organisasie het reeds vir Rikus betaal om oorsee te gaan, maar die voorwaarde is dat hierdie geld terugbetaal moet word aan die organisasie. Rikus het gesê die bedrag beloop ongeveer R30 300, maar dit sluit nie sakgeld in nie.

“My kaartjie is bespreek en ek is baie opgewonde, al moet ek nog leer om ’n paar woorde Spaans te praat.”

Die span vertrek op Donderdag 22 September.

Rikus wil sy eerstespanhokkieafrigter, Jayden Tatenda Mabya, en sy huidige afrigter by Hoërskool Warmbad, Van Reenen Cloete, van harte bedank vir hul geduld en toewyding.

  • Mense wat tot Rikus se hokkiefonds wil bydra, kan sy ma, Marjoleyn, bel by tel. 084 548 0510.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button