Sport

Nuwe sporthoof wil geleenthede aan leerders gee

Hoërskool Warmbad het vanjaar groot planne op die sportfront.

Marna van der Merwe, wat die afgelope drie jaar by Hoërskool F.H. Odendaal in Pretoria betrokke was, het die leisels by Johan Loubser, voormalige sporthoof by Hoërskool Warmbad, oorgeneem. Loubser sal hom voortaan toespits op die skool se gholfakademie.

Van der Merwe het haar studies by die destydse Pretoria Technikon (nou Tshwane University of Technology) afgeskop en daarna ’n honneursgraad in sportoefenkunde en –tegnologie aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) behaal.

Sy was onder meer by Hoërskool Monument, Afrikaans Hoër Meisieskool en Hoërskool Centurion as afrigter in spiesgooi en worpe betrokke.

Sy is geaffilieer by die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF), Atletiek Suid-Afrika (ASA), asook by Atletiek Gauteng-Noord (AGN). Sy was hoof- spiesgooi-afrigter van Tuks en is tans lid van die AGN-afrigterskomitee en van die ASA-keurdersraad.

Sy het ook opleiding in netbalafrigting in Duitsland ontvang en kan sagtebal, rugby, hokkie en atletiek afrig.

Van der Merwe het in April vanjaar die Suid-Afrikaanse-worpespan as afrigter na die Afrika Spele in die Ivoorkus vergesel. Dié span is as wenners van die byeenkoms aangewys.

Sy gaan ook later vanjaar die Suid-Afrikaanse-worpespan na die Euro Athletics-reeks in Europa vergesel.

“Ek is mal oor sport. Dit is my doelwit om meer geleenthede vir Hoërskool Warmbad se leerders te skep en hulle gereed te kry vir die wintersportseisoen wat voorlê,” het sy gesê.

“Ek sal baie graag meer van ons leerders op provinsiale vlak wil sien deelneem en daarom wil ek my kennis en kontakte gebruik om die leerders ’n hupstoot te gee.”

In die eerste twee weke by Hoërskool Warmbad het sy reeds ervaar dat die dorp se mense warm harte het. Sy sê hulle het haar behoorlik laat tuis voel.

Die stadiger pas in die platteland is iets waaraan sy nog gewoond moet raak, maar intussen woel en werskaf sy van vroegoggend tot laataand.

“Dit is vir my belangrik dat Hoërskool Warmbad só sal groei dat laerskoolouers nie twee keer daaroor sal dink om hul kinders hierheen te stuur nie.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button