Sport

Gewilde marathon dié naweek in Bela-Bela gehou

Die bekende en gewilde SuperSpar-marathon vind op Saterdag 10 November in Bela-Bela plaas.

Die organiseerders beklemtoon dat veral motorryers bewus moet wees van die roete wat die atlete sal hardloop aangesien die marathon jaarliks groei.

Volgens inligting van die Warmbad-marathonklub begin die 42,2 km-wedloop om 05:30 by Hoërskool Warmbad, die 21,2 km begin om 06:00, die 10 km om 06:15 en die 5 km begin om 06:30.

Die 10 km is eksklusief vir vroue-atlete. Daar is ’n afsnytyd vir die 42,2km naamlik ses ure nadat die atlete weggespring het.

Atlete spring weg by Hoërskool Warmbad in Swanepoelstraat, waarna die 42,2 km en 21,2 km se atlete op die Roodepoort-pad met sy S-draaie uithardloop tot by die Thabazimbi-pad (R516) se aansluiting, waar hulle omdraai.

Vandaar hardloop die atlete terug op die aangewysde roete tot in Chris Haniweg, in die rigting van die Bela-Bela-township, waarna hulle op in Van der Merwestraat en af in Bothastraat na die ou Royal Northlands-gholflandgoed hardloop.

Die atlete draai terug in Bothastraat, hardloop dan op in Van der Merwestraat en af in Mentzlaan, waar hulle Robertsonstraat bereik, regs draai en uit op die Alma-pad, in dam se rigting, hardloop.

Die atlete draai dan by ’n sekere punt op die Alma-pad om vir die roete terug, waarna hulle in Gilfillanstraat regs afdraai in die rigting van Hoërskool Warmbad. Hulle hardloop dan vir oulaas weer uit op die S-draai-pad en terug voordat hulle by die hoërskool eindig.

Die straatkruisings in Gilfillanstraat waar motorryers bedagsaam moet wees sluit in Quaggaweg, Robertson-, Ludorf-, Moffat-, Pienaar-, Hillhorst-, Oosthuizen-, McCord- en Swanepoelstraat.

Atlete wat die 5 km en 10 km aanpak, hardloop uit in Swanepoelstraat en op in Gilfillanstraat, draai links op die Alma-pad in die rigting van die dam en hardloop weer terug.

Groot pryse wag veral vir die atlete wat eerste oor die langer afstande klaarmaak.

Volgens die organiseerders kry die mans- en vrouewenners van die 42,2 km elk R10 000. Die 21,2 km se prysgeld is R1 000 vir die eerste man en vrou, en vir die 10 km vrouewedloop is R3 000 op die spel vir die eerste vrou oor die wenstreep.

Die eerste 350 atlete van die 42,2 km, asook die eerste 150 atlete van die 21,2 km wat die wedloop voltooi, sal ’n gratis T-hemp ontvang. Daar is medaljes vir elke deelnemer wat die onderskeie wedlope voltooi.

Die organiseerders hoop om veral gesinne en groepe te sien wat op hulle gemak aan die korter wedlope deelneem en die dag saam geniet.

Inskrywings open op Vrydag 9 November tussen 16:00 en 19:00 by die SuperSpar-kompleks in die dorp, asook op Sater-dagoggend 10 November vanaf 04:30 by Hoërskool Warmbad in Swanepoelstraat.
Die wedloop word gehou in samewerking met die Warmbad-marathonklub en die Waterberg-distriksmunisipaliteit.

Vir navrae oor die wedloop skakel gerus tel. 079 555 6934 of stuur ’n e-pos na die adres belabelamarathon@gmail.com(.)

Almal is welkom en die Sonskyndorpers sien veral uit om besoekers te verwelkom.

Related Articles

Back to top button