Sport

Dié lede weet hoe om kolhoue te skiet

Die boereverenigings van Roedtan en Nyl-Suid het op Saterdag 1 September ’n heerlike jaggeweerskietdag gehou.

Die dag is deur albei boereverenigings gereël en het in Roedtan by die Grou en klou-skietbaan plaasgevind.

Dit is die derde jaar dat dié skietdag gehou is en vanjaar was daar 56 skuts wat meegeding het om die groot pryse en ’n trofee.

Die toegangsgeld van R150 het die inskrywing en ’n heerlike braaipakkie ingesluit.

Volgens Santie Smit, sekretaresse van die Roedtan-boerevereniging, het al die deelnemers en besoekers dit baie geniet.

Die skuts was verantwoordelik vir hul eie veiligheid en is gevra om hul eie oor- en oogbeskerming saam te bring. Slegs slenterslagkalibers is toegelaat. Altesame 25 skote is op die baan geskiet, wat uit ses skietpunte in veldskutformaat was, het sy gesê. Die top vier tellings van die onderskeie boereverenigings se lede is bymekaar getel om ’n punt te verkry vir die wisseltrofee.

Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat die spogtrofee deur Roedtan-suid-boerevereniging gewen is. Daar was egter ook kategorieë vir nielede en vroue om deel te neem. Die wenner van die vroueafdeling was Jeanne Haasbroek. Eugené Etsebeth was die wenner in die ope-afdeling en Hendrik Botha het die TLU-lede-afdeling gewen.

Volgens Smit beplan die boerevereniging om die skietdag in 2019 weer die eerste naweek in September te hou en dan sal daar ’n tweede dag wees vir handwapens.

Related Articles

Back to top button