Letters

Brief: Welsynsorganisasies sal deure moet sluit weens geldgebrek

Baie welsynorganisasies in Gauteng sal in April hul deure moet sluit.

Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LPW: Gauteng, skryf:

Baie welsynorganisasies in Gauteng sal in April hul deure moet sluit.

Dit is ná die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling se aankondiging dat sy begroting nie toelaat om aan alle niewinsgewende organisasies se finansiële aansoeke te voldoen nie.

Van die 1 350 welsynsorganisasies wat in die 2023/24-finansiële jaar wel fondse ontvang het, het verskeie reeds hul deure gesluit en maatskaplike werkers afgelê.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het self welsynorganisasies vandeesweek in ’n mediaverklaring gewaarsku dat hy 1 732 aansoeke vir geldhulp ter waarde van R11,4 miljard ontvang het. Die departement het net ’n begroting van R5,5 miljard.

Die departement is voorts besig met ’n streng beoordeling wat die weg baan vir die hersiening en ondertekening van diensvlakooreenkomste.

Gevolglik het geen van die welsynsorganisasies wat die VF Plus gekontak het, befondsing ontvang nie.

Die nuwe finansiële jaar het op Maandag, 1 April begin.

Die niewinsgewende organisasies het almal dieselfde boodskap – hul deure sal noodgedwonge moet sluit want hul koskaste is leeg.

Van die organisasies het reeds naasbetaandes in kennis gestel om, indien fondse nie spoedig ontvang word nie, ander planne te maak vir die versorging van hul familielede.

Tehuise vir bejaardes waarmee die VF Plus gepraat het, is dit eens dat bejaardes wat afhanklik is van maatskaplike toelae, die kwesbaarste is omdat hulle gesubsidieer word.

Hulle het nie meer geld om by te dra nie. Tehuise sal ook genoodsaak wees om maatskaplike- en verpleegpersoneel af te lê.

Met die Gauteng-begroting vroeër vanjaar, is aangedui dat die departement se 2024/25-begroting met 3% gesny is.

Dit terwyl die nood onder gemeenskappe daagliks groei weens die hoë werkloosheid in die provinsie.

Die VF Plus lê die maatskaplike krisis voor die deur van Panyaza Lesufi, die premier van Gauteng.

Belastinggeld kan nie aangewend word om Lesufi se ‘Ama-Panyaza’-projekte en verkiesingsbeloftes te befonds terwyl die provinsie afstuur op ’n tweede Life Esidimeni-tragedie nie.

Dit gaan lankal nie meer vir Lesufi oor die belange van inwoners of die ekonomiese vooruitgaan van die provinsie nie, maar oor sy eie politieke beeldpoetsery om sy politieke loopbaan te bevorder.

Die enigste oplossing om die lewenswaliteit van Gauteng se weerlose inwoners te verbeter, is om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ’n koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.

Related Articles

Back to top button