Letters

Brief: Kom ons ruk Vaalwater sáám reg

Johannes Kleinhans, voorsitter van die Vaalwater Sakekamer skryf: ’n Bietjie meer as ’n jaar gelede was die sakekamer gestig deur ’n paar entoesiastiese inwoners en sakeondernemings wat Vaalwater wil optel, wil verander en wil laat terugkeer na die gloriedae wat hy verdien. Die bestuur is vir meer as ’n jaar al aan die werk met …

Johannes Kleinhans, voorsitter van die Vaalwater Sakekamer skryf:

’n Bietjie meer as ’n jaar gelede was die sakekamer gestig deur ’n paar entoesiastiese inwoners en sakeondernemings wat Vaalwater wil optel, wil verander en wil laat terugkeer na die gloriedae wat hy verdien.

Die bestuur is vir meer as ’n jaar al aan die werk met verskeie projekte. ’n Paar swaeltjies maak egter nie die somer nie en die ondersteuning van die publiek en die sakegemeenskap (wat belange in die dorp en omgewing het) is van uiterste belang.

Ons doen ’n ernstige beroep op inwoners om aan te sluit by die sakekamer, hulle lidmaatskapfooi te betaal en saam om die tafel te kom sit om planne te maak in die verbetering en herstel van Vaalwater. Dit is onmoontlik vir enkeles in die gemeenskap om alles self te doen, die middele te vind om drome realiteite te maak, sewe dae ’n week alleen “pik te slaan” net om te sien hoe daar weer afgebreek en gemors word. Ons moet saam staan!

Jy, ek, ons en elke sake-eienaar of bestuur moet verantwoordelikheid en eienaarskap neem en as jy dit nie doen nie, moet jy jou kop in skaamte laat sak. Ons kan nie soos Vaalwater tans lyk en elke dag verder agteruitgaan, dit net goedsmoeds aanvaar nie.

Ek gaan nie aan jou voordeur klop nie, hierdie is my versoek aan jou – word deel van Vaalwater se sakekamer en maak ’n verskil.

Ons het jaarliks duisende internasionale besoekers en hulle moet vaskyk en ervaar waaraan ons al gewoond is. Is dit goed vir jou en jou sakeonderneming? Hou jy daarvan? Is dit hoe jy graag wil hê iemand jou dorp moet ervaar?

Vaalwater Sakekamer nooi jou uit – voltooi die lidmaatskapvorm en word deel van die span wat oorgehaal is om Vaalwater te verander. Saam met die lidmaatskap is daar ook ‘n fooi – daardie paar rand ’n maand maak ’n reuse verskil aan die suksesvolle uitvoer van projekte.

Die sakekamer se bestuur steek hul nekke uit en sal beloftes maak – ons het lede nodig wat bereid is om saam te werk aan ’n beter, mooier en meer effektiewe dorp.

Related Articles

Back to top button