Letters

Brief: Stoute kabouters van die liefde

Jy is vry om ’n kabouter te bly wat die aardbol weggooi in die naam van jou liefdesdroom.

Santie Gildenhuys, van Modimolle skryf oor die liefde:

“Die kabouter met die rooi-rooi pet…
Het sy hart gisteraand vir my gegee…”
“Die kabouter met die rooi-rooi hart…
Hy’t die aardbol oor sy kop gegooi…
Mmm, dis hier waar die liefde lê…”

Oor ’n paar dae gaan die liefde – en veral romantiese, Valentynsliefde – ons hartsnare weer behoorlik roer. Kom ek spot so ’n bietjie met die liefde uit die volgende drie stukkies lirieke…

Die eerste een hier bo is die speelse lirieke van Laurika Rauch se liedjie “Kabouterliefde”, oorspronklik geskryf deur Ingrid Jonker. Hierdie stoute kabouter verkies om net te glo in die kinderlike,  fantasie-weergawe van die liefde, eerder as die meesal aardse, oftewel materiële siening van die liefde.

Daar is natuurlik ook baie vroulike stoute kabouters (nie almal is Sneeuwitjie nie).

“Shot through the heart
And you’re to blame
You give love a bad name”

Elke keer wat Bon Jovi hierdie woorde uitsnik, skud ek net my kop. Joe! Wat moes hierdie minnares aangevang het om so ’n skokkende liefdesbelediging te verdien? “You give love a bad name.” Eina!

Net voordat julle ander stoute kabouters behaaglik en selfvoldaan agteroor sit, met julle vele liefdeskaperjolle nog veilig onder ’n dekmantel, gooi ek Jakkie Louw se “Drie pikkewyne” na julle kant toe…

“Daar onder lê drie pikkewyne…
Die middelste een, sy is myne…
Maar… die buitenste twee… is ook myne”.

Baie stout van jou. Hoop die Mosselbaaise wind waai jou ver weg… tot op ’n verlate eiland waar dit selfs te koud is vir Happy Feet en familie om jou te kom opbeur.

Gelukkig hou Valentynsdag 2024 goeie nuus vir elkeen van ons in. Jy is vry om ’n kabouter te bly wat die aardbol weggooi in die naam van jou liefdesdroom. En jy mag ook bly glo in die onnutsige Cupido met sy liefdespyltjies, selfs al word jy telkens verwond gelaat. Dalk is jy daardie middelste wyfie-pikkewyn wat vir die gek gehou word. Jou dag van afrekening gaan wel aanbreek. Dan stamp jy die stoute kabouter uit jou mouter en gaan sonbaai op …Sandy Bay.

Related Articles

Back to top button