Letters

Hou moed en pak toekoms stukkie vir stukkie aan

My tien jaar ondervinding as joernalis het my tot ’n mate voorberei vir die eise wat nou aan my gestel word.

Andries van der Heyde, DA-raadslid, Bela-Bela, skryf:

Op Dinsdag 7 November was ek reeds 100 dae lank as DA-raadslid diensbaar en het ek die dorp en sy inwoners op ’n ander vlak leer ken.

My tien jaar ondervinding as joernalis het my tot ’n mate voorberei vir die eise wat nou aan my gestel word.

Ongelukkig voel dit asof ek nooit weer ’n punt aan die einde van ’n sin kan sit nie. Daar bly nou altyd ’n “maar”. My werkslading het in Julie feitlik oornag verander van ’n gewone raadslid wat slegs in belang van die inwoners in my dorp omsien na die groter verantwoordelikheid om op die raad se uitvoerende komitee (UK) te dien. Dit is asof die Hoër Hand besluit het ek moet groter verantwoordelikheid hê terwyl ek steeds die mandaat het om daagliks op te daag en elke dag ten volle in die dorp se belang op te tree. As jy nie dáár is nie, gebeur daar nie veel met gerapporteerde klagtes nie.

Die provinsiale kantoor van die DA is tevrede met die vordering wat ons gemaak het. Dit is steeds ’n riem onder die hart om dankbare belastingbetalers teë te kom wat ek deur ingryping kon help met navrae en diensleweringsprobleme. My goeie geheue is ’n bate, want ek memoriseer wat amptenare belowe het en kan dit dan opvolg.

Dit is ’n voorreg om ’n eenvoudige taak te verrig soos om rommel op te ruim. Hopelik sal dit ander inwoners ook aanspoor om ’n papier of blikke op te tel. Elke skoonmaak-aksie is tot voordeel van die groter gemeenskap en kan ons dorp se beeld verbeter.

Deur elke dag diensbaar te wees en beskikbaar te wees vir inwoners se probleme is ’n bewys dat die salaris wat ek maandeliks ontvang nie verniet is nie, maar welverdiend. Met konstante opvolging word dienslewering uitgevoer.

Ek weet dat mense dink ek is nie baie spraaksaam nie, maar wil julle gerusstel dat ek opgelei is om waar te neem en te absorbeer.

Deel van my doelstelling is om die privaat sektor te verbind met die bekwame en gewillige amptenare wat bereid is om die ekstra myl te loop.

Dit is egter ’n moeilike taak om inwoners met die naakte waarheid te konfronteer dat daar nie dadelik ’n oplossing is vir bestaande probleme nie, maar met deurlopende opvolgwerk en motivering kan dit verbeter. Onthou ons het nie ’n towerstaf nie, maar ons het inspraak waar die besluite gemaak word.

Ek wil inwoners verseker dat groter dinge kom. Ons kan hierdie munisipaliteit nog omdraai as ons almal saamwerk.

Aan die einde van ’n jaar is almal se energie besig om te taan, maar ons beur vorentoe en daarom wil ek vra om ons as opposisie te versterk en om die verteenwoordigers van die DA wat mense nou in aanloop tot volgende jaar se verkiesing skakel, te woord te staan en om beslis aanstaande jaar te gaan stem.

Ek sien reeds duidelike verandering ná 100 dae.

Weer eens dankie vir die vertroue in my gestel.

Ons moet handelaars wat die strate voor hul ondernemings skoonmaak werklik komplimenteer. Danksy die raadslid van Wyk 12 weet ons wat in die dorp aangaan en ons sê vir hom ook baie dankie.

Om ’n geheelbeeld van ons dorp en die plaaslike regering te kry, kan jy gerus die spoorwegstasie besoek. Wat ’n skande!

Ná 360 jaar van opbou en vooruitgang is die meeste daarvan binne 30 jaar tot op die grond vernietig.

Related Articles

Back to top button