Letters

Brief: Eerlikheid oor werklikheid by mediafunksie

Om eerlik te wees oor ons werklikheid en ’n standpunt in te neem teen die sake wat negatiewe gevolge vir ons toekoms kan hê was tydens die mediafunksie beklemtoon.

Henry Geldenhuys, TLU SA– president, skryf: 

Tydens die TLU SA se jaarlike mediafunksie op Maandag 20 November is van die geleentheid gebruik gemaak om eerlik te wees oor die werklike stand van landbou in Suid-Afrika met die media. Die media is weereens bedank vir die groot rol wat hulle speel in die bevordering van landbou.

Om eerlik te wees oor ons werklikheid en ’n standpunt in te neem teen die sake wat negatiewe gevolge vir ons toekoms kan hê was tydens die mediafunksie beklemtoon. Suid-Afrika is tans nie op ’n goeie plek nie en ons landbou-industrie gaan onder die bestuur van die nasionale regering daaronder lei. Enige persoon wat eerlik met hom- of haarself is, besef dit.

Ons toekoms moet nie bepaal word deur diegene wat afbreek en vernietig nie, maar deur hulle wat sterk fokus op ekonomiese groei en die bou van ons toekoms. Ons moet teen die aanvaarding van hierdie situasies waak.

Landbou is ’n ekonomiese proses waar die laaste woord altyd deur die markkragte gespreek moet word. Dit is uiters kortsigtig om enige ideologiese of politieke uitspraak blindelings te aanvaar sonder om dit teen die markte te toets. Indien dit duidelik is dat die markte dit verwerp, moet ons eerlik en verantwoordelik wees en herbesin. Volgens TLU SA se oordeel is daar eenvoudig te veel ondersteuning vir regulasies wat reeds bewys het dat dit faal. Dit sluit die hele transformasie-agenda in, wat kaderontplooiing, korrupsie, SEB en onwettige wanbesteding en selfverryking insluit.

Suid-Afrika het weer vertroue nodig in ons stelsels, maar dit moet realistiese vertroue wees, gebaseer op waardes wat sinvolle en praktiese uitkomste lewer en ekonomiese groei bevorder. In daardie gees moet ons die toekoms optimisties, in ooreenstemming met ons kultuur opdrag en talente volledig benut en benader. Wanneer ons reg doen, is dit ’n positiewe proses waar ons streef na verbetering, nie net as individue nie, maar ook as organisasies wat ’n gevoel van trots oor wat ons verteenwoordig, teweegbring. Vandag is daar dankbaarheid teenoor TLU SA, wat voortdurend die stem van redelikheid en eerlikheid was en sal bly.

Ter afsluiting van die mediafunksie is ’n beroep op die media gedoen om saam met TLU SA altyd eerlik oor die werklikheid in Suid-Afrika te wees. Dit is ’n goeie beginpunt om oplossings vir die verskeidenheid onaanvaarbare probleme in Suid-Afrika te vind. TLU SA kies om positiewe uitkomste te bevorder – help ons om dit in belang van elke inwoner van die land te bereik.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button