Letters

Brief: Bela-Bela lyk maar afgerem vir besoekende toeriste, of hoe?

Die hand wat die kruisie maak, is die hand wat aan die toekoms raak.

Pieter Olivier, Bela-Bela, skryf:

Ons woon reeds 10 maande in Wyk 1 in Bela-Bela.

Ons is gelukkig hier in die Bosveld en hoewel daar klein items, soos nylonkitaarsnare, is wat nie hier beskikbaar is nie, het ons soveel ander voorregte waaroor ons baie dankbaar is.

Daar is egter so hier en daar sake wat ek as onverstaanbaar en onaanvaarbaar beskou. Vanuit ’n toerisme-oogpunt lyk ons dorp afgerem.

Slaggate word klokslag deur die munisipaliteit met grond gevul om motoriste te troos.

Salomo het gesê: “Gaan na die miere en word wys.” Miershoopgrond is dalk ’n beter oplossing as sand. Hier is sekerlik miershope in die omgewing? Kap dit in stukke, maak dit fyn en klam en stamp dit goed vas in die slaggate wat eers behoorlik skoongemaak moet word. ’n Bietjie sement kan bygevoeg word.

Op die sypaadjie by Laerskool Warmbad se sportgronde is twee uiters gevaarlike gate. Dit is ’n kwessie van tyd voordat iemand daar seerkry. Naby die sirkel in Qwaggaweg is ’n groot slaggat wat beslis skade aan ’n voertuig kan veroorsaak. Dit is ook lewensgevaarlik, want inwoners weet van die slaggat en swaai voor niksvermoedende toeriste uit. Op die middelman lê daar ’n onooglike boomstomp wat met min moeite deur die munisipaliteit verwyder kan word. In Chris Haniweg is daar ’n gevaarlike beskadigde stormwatermangat wat ook vir voet-
gangers gevaar inhou.

Verwaarlosing spreek uit die skewe pale en drade van feitlik elke lamppaal. Die padtekens en verfwerk van strate se padmerke in die hele wyk, maar veral in die sentrale sakesektor, is beroerd.

Talle straatnaamborde ontbreek, verkeersligte is buite werking en straatligte is ’n skim uit die verlede. Meiningerstraat word by die dag gevaarliker.

Die talle mooi en groot bome wat langs die strate pronk en sypaadjies wat deur eienaars netjies gehou word, versag gelukkig die prentjie van verval. Dit herinner aan ’n tyd toe dorpsbelasting nog vir munisipale dienslewering aangewend is.

Inwoners moet asseblief moeite doen om as kiesers te registreer en volgende jaar te gaan stem. Die hand wat die kruisie maak, is die hand wat aan die toekoms raak.

Related Articles

Back to top button