Letters

Brief: Ou herinneringe word opgeroep

Soms vervleg mense wat jy nooit geken het nie met insidente uit jou eie verlede.

Oud-Vrystater, per e-pos, skryf:

Soms vervleg mense wat jy nooit geken het nie met insidente uit jou eie verlede — soos die onlangse afsterwe van die oud-Springbok krieketspeler Peter Carlstein.

Gedurende Februarie 1964 is sy vrou en van sy kinders buite Villiers in ’n motorongeluk oorlede. Op daardie stadium was ek ’n st. 7-leerder (nou gr. 9) op die dorp.

Die oorsaak van die ongeluk was dat die motor waarin Carlstein se gesin gereis het vanuit ’n T-aansluiting voor ’n aankomende vragmotor ingery het. Die omstandigheid is bevestig deur ’n huisvriend van my ouers wat net agter die vragmotor gery het.

Omdat ons daardie jaar pas na Villiers verhuis het, het ons in ’n losieshuis tuisgegaan totdat my pa ’n huis in die dorp kon koop.

Ten tyde van die ongeluk was Carlstein deel van die Springbok-krieketspan wat oorsee getoer het. Een van die ander loseerders was ’n poskantoorklerk wat die telegram oor die ongeluk aan die bestuur van die krieketspan gestuur het.

Die wrak van die motor is na die perseel van die polisiestasie op die dorp gesleep.

’n Onderwyser op die dorp se een seun was die argitek van die veranderinge aan die Bosveld Mall. Een van sy ander seuns was ’n joernalis by ’n Randse dagblad.

’n Paar dae ná die ongeluk het die onderwyser vertel van ’n berig in die Randse dagblad oor die aankoms van Carlstein op die Jan Smuts Lughawe en die hartroerende tonele wat daar afgespeel het.

Vir die dagblad was die berig ’n groot verleentheid omdat die vlug waarop Carlstein vir sy terugvlug na Suid-Afrika was, iewers vertraag was, en hy ’n dag of wat ná die berig verskyn het, eers in die land aangekom het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button