Letters

So het Warmbad se naam verander

Voorstelle oor die naamsverandering is tot stemming gebring en so het Warmbad na Bela-Bela verander.

Oud-amptenaar, Bela-Bela, skryf:

Veranderinge van dorpsname was onlangs weer in die nuus.

’n Personeellid van die plaaslike munisipaliteit het my ’n tydjie gelede geskakel om sekerheid te kry oor wanneer die naamsverandering van Warmbad na Bela-Bela plaasgevind het.

Wanneer dit was kan ek nie meer presies onthou nie, maar die aanloop daartoe gedurende die jare negentig van die vorige eeu is nog nie heeltemal vergete nie.

Die munisipale grense is destyds uitgebrei om ook die omliggende distrikte in te sluit. Die vergrote munisipale gebiede moes vernoem word en daarmee saam verkieslik ook die dorpe in daardie omgewing.

Tydens ’n vergadering in Pietersburg (nou Polokwane) wat onder meer deur stadsklerke uit die provinsie bygewoon is, het die uitvoerende komiteelid van die provinsiale regering gemoeid met munisipale aangeleenthede genoem dat die instruksies vir die naamsverandering van dorpe na munisipale rade uitgestuur sal word en dat spoedig daarop reageer moet word.

Hy het bygevoeg dat daar inwoners sal wees wat beswaar sal maak oor onder meer die koste wat die naamsveranderinge sal meebring. Sulke besware kan geïgnoreer word, is gesê.

Wyle Sam Makhubela was die voorsitter van die uitvoerende komitee van die munisipale raad van die destydse Warmbad toe die kwessie van die naamsverandering voor die komitee gedien het. Sy standpunt, gesteun deur die ander lede van die komitee, was dat daar niks polities aan die naam Warmbad is nie en dat dié naam van die dorp moes bly.

Die besluit is so oorgedra aan die provinsiale owerhede. Binne ’n week daarna het Makhubela vir ’n spesiale vergadering van die uitvoerende komitee aangevra en is die naamsverandering weer op die agenda geplaas. Die vorige besluit is herroep en daar is besluit dat die naam Bela-Bela sou wees. Dit is die naam waaronder die destydse township bekend was.

Voordat die naamsverandering kon plaasvind, moes die besluit eers vir goedkeuring aan die gemeenskap voorgelê word. Die vergadering het in die Warmbad Dienssentrum in Van der Merwestraat plaasgevind.

Besondere moeite is gedoen om elke instansie uit die onderskeie gemeenskappe na die vergadering te nooi. Sover ek kan onthou het 25 verteenwoordigers uit die township opgedaag en ses persone uit Warmbad waaronder ’n munisipale raadslid en drie munisipale amptenare was. ’n Verteenwoordiger van Die Pos-koerant was ook daar.

Fred van Heerden as verteenwoordiger van die Warmbad-gemeenskap het ernstig gepleit vir die behoud van die ou naam en as kompromie voorgestel dat die naam Warmbad/Bela-Bela kan wees. Een van sy hoofargumente was dat Warmbad ’n gesogte toeristebestemming is en dat ’n ander naam die dorp en omgewing sou benadeel.

’n Verteenwoordiger van die Bela-Bela-township het daarop geantwoord dat die naam Bela-Bela by die meeste Suid-Afrikaners bekend is en daarom meer toeriste uit ’n ander deel van die bevolking sal lok. Die gemeenskap wat hy verteenwoordig gebruik lankal nie meer die benaming Warmbad nie, maar verwys slegs na Bela-Bela in korrespondensie en gesprekke.

Buitendien, het hy aangevoer, al die luukse oorde in die omgewing het inheemse name. Waarom kan ’n inheemse naam nie ook aan die dorp gegee word nie?

Die voorstelle oor die naamsverandering is tot stemming gebring en so het Warmbad na Bela-Bela verander.

Agterna was daar die verwagte gemor oor die naamsverandering. Moontlik kon dit verhoed gewees het indien die gemeenskap van die destydse Warmbad in oorheersende getalle op die vergadering teenwoordig was.

Related Articles

 
Back to top button