Letters

Waar is Emsie se goeie maniere en etiket?

As die kunstenaar jou betower het, is dit ná die laaste noot die tyd om waardering te wys met applous — nie met luidrugtige geselskap nie.

Etiket-guru, Bela-Bela, skryf:

Daar is iets betowerends aan ’n aandete by ’n restaurant met ’n lewendige kunstenaar op die verhoog om jou oë en ore te bederf.

Dit is soos ’n melodiese reis na ’n ander wêreld.

Maar, ons moet onthou dat hierdie spesiale oomblikke slegs só spesiaal is soos ons dit maak. Dit is tyd om te praat oor etiket en goeie maniere by ’n lewendige optrede, want ons is hier om te kyk en te luister na die kunstenaar. As jy geraas wou maak en heeltyd wou gesels, kon jy netsowel by die huis gebly het en na ’n opname geluister het.

Sekere mense weet nie hom om hulself ordentlik by ’n uitvoering te gedra nie. Dit is ’n geleentheid om jou gunstelingkunstenaar in lewende lywe te sien, nie ’n kans om die kollig op jouself te plaas en self in ’n popster te ontluik nie.

Dan is daar die mense wat dink hulle is selfoon-superhelde. Hulle glo hulle kan die beste video’s van die vertoning maak, maar al wat hulle eintlik doen, is om die mense agter hulle te irriteer met hul flikkerende skerms. Dit is ’n lewendige vertoning — nie ’n fliek nie. Al wat jy gewoonlik afneem, is die ou voor jou se kaal kop. Sit gerus jou foon neer en geniet die oomblik.

’n Ander gewoonte wat my grief, is die persoon wat dink die hele wêreld wil hul sangstem hoor. As jy nie op die verhoog is nie, moet jy jou karaoke-ambisies vir ’n ander dag bêre. Die enigste stem wat ons wil hoor, is dié van die kunstenaar wat ons ander betaal het om te sien optree.

Dan is daar ook mense wat dink hulle kan geld bespaar deur hul eie kos en drank te bring. Hulle smokkel ’n tuisbereide aandete in ’n groot handtas in of ’n plat flessie in hul agtersak.

Ek het gedink dit is net ’n plattelandse gewoonte en dat mense hier dalk nog nooit geleer het van etiket nie. Groot was my verbasing om te lees dat Nathaniel Clark in sy artikel “People Need to (Re)Learn Their Concert Etiquette, 2022 presies dieselfde sê: “Dit is aanvaarbaar om met jou vriende te kommunikeer by ’n konsert, maar daar kom ’n tyd wanneer jy moet ophou praat. Spesifiek wanneer enige kunstenaar (voor- of hoofvertoning) op die verhoog kom. Hou op gesels en verplaas jou aandag na hulle toe.”

By elke enkele konsert wat ek hierdie somer bygewoon het, het ek hordes mense gehoor wat aanhou praat terwyl die kunstenaar optree. Dit is aanstootlik en onbeskof vir die gehoor en vir die kunstenaars self.

Dit is nie asof jy ’n rugbywedstryd bywoon en die res van die skare probeer oortuig van jou mening nie. As jy iets belangrik het om te sê, fluister dit saggies aan jou metgesel.

Wat die selfone betref: Daar is niks meer hinderlik as ’n skerp luitoon wat die stilte van ’n lieflike ballade verbreek nie. Stel jou foon op stil of vliegtuigmodus of sit dit af om enige afleidings te vermy.

As die kunstenaar jou betower het, is dit ná die laaste noot die tyd om waardering te wys met applous — nie met luidrugtige geselskap nie.

Onthou, etiket en goeie maniere maak nie net die aand vir jouself en jou metgeselle aangenaam nie, maar dit respekteer ook die harde werk van die kunstenaar. Sit jou beste voetjie voor, hou jou mond gesluit en geniet die musiek!

Jou goeie maniere kan die verskil maak tussen ’n aangename aand en ’n kakofonie van lawaai en irritasie vir ander.

Related Articles

Back to top button