Letters

Brief: Skoksyfers oor polisielede sedert 2019 toon diepgewortelde misdaad in polisie

Van die 383 ernstige misdade waarvoor lede in hegtenis geneem is, was 84 vir moord, 109 vir roof, 79 vir verkragting, 29 vir veediefstal, 4 vir transitorooftogte en 78 vir ontvoering.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -leier, skryf:

Die feit dat altesame 5 489 polisielede sedert die 2019/20-boekjaar in hegtenis geneem is weens strafregtelike oortredings, wys hoe diep misdadigheid in die polisie wortel geskiet het.

Van die 5 489 is 383 weens ernstige misdade soos moord, verkragting en veediefstal.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het hierdie syfers aan die VF Plus bekend gemaak nadat ’n gebrekkige inligtingstelsel enkele weke gelede as verskoning aangevoer is oor waarom die syfers nie beskikbaar was nie.

Van die 383 ernstige misdade waarvoor lede in hegtenis geneem is, was 84 vir moord, 109 vir roof, 79 vir verkragting, 29 vir veediefstal, 4 vir transitorooftogte en 78 vir ontvoering.

Volgens die minister is geen polisielid vir betrokkenheid by ’n plaasmoord in hegtenis geneem nie.

In sy ontwykende antwoord in Julie het die minister gesê hy is “ten volle bewus van die ernstige implikasies” van polisielede se betrokkenheid by misdaad en veral van die impak daarvan op die publiek se vertroue in die polisie.

Hy het gesê dit is noodsaaklik dat ’n stelsel “in plek moet kom” om al die inligting oor polisie-betrokkenheid by misdaad byeen te bring, te kontroleer en te verifieer.

Dit blyk dat dit nou wel gedoen is nadat die VF Plus daarop aangedring het dat die antwoorde voor Saterdag 30 September verskaf word.

Dit is onaanvaarbaar dat daar eers druk op die minister geplaas moes word voordat ’n stelsel in plek geplaas is om die omvang van misdadigheid onder polisielede deur ’n databasis gereeld op te dateer.

Sonder gedetailleerde inligting kan daar geen voorkomende stappe in plek gestel word om misdadigheid te voorkom of om daadwerklik daarmee te handel nie.

Hierdie syfers wys duidelik dat daar ’n groot probleem met misdadigheid in die polisie is en die publiek nie kwalik geneem kan word indien hulle toenemend vertroue in die polisiediens verloor wat deur onbevoegde mense bestuur word nie.

Related Articles

Back to top button