Letters

Brief: Rioolkrisis ná jare uiteindelik hanteer

Die MRK het in November 2020 ’n openbare verhoor oor dié klagte gehou en die munisipaliteit op terme geplaas.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LPW en provinsiale leier: Limpopo, skryf:

Ná jare lange druk van die VF Plus gaan die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit (Modimolle, Mookgophong en Vaalwater) uiteindelik rioolpompstasies in dié munisipaliteit herstel.

Die party veg sedert 2019 teen die voortslepende rioolbesoedeling in die munisipaliteit.

Die party het destyds ook ’n klag by die menseregtekommissie (MRK) teen die munisipaliteit ingedien vir skending van mense- en omgewingsregte weens die voortdurende besoedeling van die Nylsvley-biosfeer.

Die MRK het in November 2020 ’n openbare verhoor oor dié klagte gehou en die munisipaliteit op terme geplaas.

Die rioolpompstasies wat nou aandag geniet is die R101/N1- en Rooipad 1-pompstasies in Mookgophong.

Albei hierdie pompstasies is noodsaaklik om riool vanaf Mookgophong en omliggende gebiede na die rioolsuiweringsaanleg te pomp.

Kragopwekkers sal ook binnekort by waterpompe en rioolpompstasies geïnstalleer word.

Limpopo is ’n waterskaars-provinsie en die ongebreidelde besoedeling van kosbare waterbronne mag nie toegelaat word nie.

Die VF Plus sal sy druk volhou om toe te sien dat inwoners van Limpopo se grondwetlike reg om in ’n skoon en veilige omgewing te leef en werk, eerbiedig word.

Related Articles

Back to top button