Letters

Brief: Dit is waar erfenis en spontanïteit mekaar ontmoet

Met meer entoesiasme as Siya en met haar handjie op haar hart, begin sy uit volle bors wegval met: “Nkosi Sikelel’ Afrika. Maluphakanyisw’ uphondo Iwayo.”

Santie Gildenhuys, inwoner van Modimolle, skryf:

Met die oog op ’n gesellige rugby- en braaikuier by my sus-hulle op Sondag 17 September in Bela-Bela, drafstoot ek laatoggend my trollie deur ’n bekende koswinkel se rakke.

Ek het sommer klaar my nasionale ondersteunersdrag aangetrek (nee, nie die ánder koswinkel se kleure waarmee almal so spot nie). My eerste draai is by De Beers, oftewel die vleisafdeling.

Ek sien die oulike gesinnetjie naby my verbystap: pappa, mamma, ousus en kleinsus van so omtrent vyf jaar, skat ek. Kleinsus steek in haar spore vas en bekyk my van kop tot tone. Haar gesiggie helder op. Met meer entoesiasme as Siya en met haar handjie op haar hart, begin sy uit volle bors wegval met: “Nkosi Sikelel’ Afrika. Maluphakanyisw’ uphondo Iwayo.”

Ousus probeer vervaard haar mond toedruk. “You can’t sing in here, Thandi!” berispe sy haar. Thandi stoei terug.

“Leave her. Let her sing,” sê ek glimlaggend. Ousus luister en Thandi sing voort; die hele volkslied deur: “Uit die blou van onse hemel” inkluis. My hart vermurwe.

Eensklaps het ’n spontane dogtertjie net weer bewys dat sport ons almal op so ’n spesiale manier saambind. In hierdie geval is dit rugby wat ons gedeelde erfenis is.

Wat meer is: jy hoef nie eens op ’n pawiljoen in Frankryk te wees om opregte, warm samehorigheid te ervaar nie.

Jy kan maar net ’n draai deur ’n doodgewone, plattelandse koswinkel te gaan loop.

Related Articles

Back to top button