Letters

Brief: Bevindinge oor Phala Phala laat vrae verdiep

Daar kan nou met reg gevra word hoe die dollars in Suid-Afrika gekom en op die plaas beland het indien daar dan geen bewyse is van enige transaksie nie.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -leier, skryf:

Die verslag en die bevindinge van die Suid-Afrikaanse Reserwebank oor die gebeure op pres. Cyril Ramaphosa se wildplaas Phala-Phala, buite Bela-Bela, laat meer vrae ontstaan as wat dit antwoorde gee oor die aangeleentheid.

Volgens die Reserwebank kon geen bewyse gevind word van ’n transaksie met die aankoop van buffels nie en daarom is geen valutabeheerregulasie oortree nie.

Daar kan nou met reg gevra word hoe die dollars in Suid-Afrika gekom en op die plaas beland het indien daar dan geen bewyse is van enige transaksie nie.

Dit dien as bewys dat die valuta op ’n onwettige wyse op die plaas beland het. Die feit dat valuta op die plaas versteek was, was nog nooit in dispuut nie.

Die bevinding van die Reserwebank wys nou dat die VF Plus reg was oor sy aandrang dat die parlementêre ad hoc-komitee wat die aangeleentheid moes ondersoek, die saak verder moes voer om agter die waarheid te kom.

Dit is nie gedoen nie omdat die ANC misbruik gemaak het van sy getallemag in die parlement om die ondersoek te keer.

Die Reserwebank bevestig wel die ad hoc-komitee se bevinding dat daar verskeie aspekte rondom die aangeleentheid is waaroor pres. Ramaphosa antwoorde moet verskaf.

Die president is die antwoorde aan die Suid-Afrikaanse publiek verskuldig. Indien hy steeds weier om oop kaarte te speel, sal daar weer stappe deur die parlement geneem moet word om die saak behoorlik te ondersoek.

Related Articles

Back to top button