Letters

Brief: Dramatiese verhoging in brandstofpryse

Hoe minder die rand werd is, hoe duurder is brandstof dus in Suid-Afrika.

Dr. Wynand Boshoff, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LP en hoofwoordvoerder: Energie, skryf:

Die verhoging in brandstofpryse wat Woensdag 6 September in werking tree, laat opnuut die kollig val op die mate waartoe Suid-Afrikaanse verbruikers uitgelewer is aan sake waaroor hulle geen beheer het nie, soos die waarde van die rand en die olieprys.

Slegs volgehoue ekonomiese groei sal die langtermynneiging van duurder brandstof kan omkeer.

Die olieprys is aan buitefaktore onderworpe. Die waarde van die rand, daarenteen, word grootliks deur valuta-handelaars se opvatting van die land se ekonomie beïnvloed.

Olie, waarvan die prys in Amerikaanse dollar vasgestel word, word met rande aangekoop. Hoe minder die rand werd is, hoe duurder is brandstof dus in Suid-Afrika.

Slegs wanneer vertroue in Suid-Afrika se ekonomiese en politieke stabiliteit herstel word, sal die waarde van die Rand op ’n volgehoue grondslag herstel. Dit sal goedkoper brandstof, laer inflasie en gevolglik sterker ekonomiese groei in die hand werk.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het verlede week ’n aantal voorstelle gemaak om wegholbrandstofpryse te tem. Dit gaan veral oor die aannames waarvolgens winsmarges en ’n basiese prys van geraffineerde brandstofsoorte bepaal word.

Hoewel prysbepaling voortdurend heroorweeg moet word, word die verskil wat dit kan maak, verreweg deur skommelings in die wisselkoers en die prys van Brent-ru-olie oorskadu.

Uiteindelik verdien die brandstofprys, soos die res van die Suid-Afrikaanse ekonomie, beter as ’n ANC-regering.

Related Articles

Back to top button