Letters

Brief: Wie kan deel in versteekte ponde?

Ek wonder steeds of daar werklik goue ponde in een van daardie grafte begrawe is en wat die wetlike vereistes is indien ’n mens daarna gaan soek

Goudsoeker van Bela-Bela, skryf:

Die berig “Treasure hunters visit Bela-Bela” in Die Pos van 25 Augustus 2023 herinner my toe weer aan die versteekte ondergrondse goue ponde waarvan moontlik net iemand anders en ek tans nog weet.

Ongeveer 50 jaar gelede woon ek op ’n dorp in ’n ander provinsie waar ek ’n man ontmoet wat weens sy werk soms op ander dorpe in die omgewing werk.

Op ’n dag vertel hy dat ’n ouerige man van ’n buurdorp hom vertel het van goue ponde wat gedurende die Anglo-Boere-oorlog op ’n plaas in ons omgewing begrawe is. Die verteller het die terrein beskryf as ’n plek waar ’n bloekomboom staan en ’n graf in ’n bepaalde rigting en afstand van die boom is. Hy het beweer dat die graf vol goue ponde was.

Ons het uitgery na die gegewe plek en werklik ’n begraafplaas aangetref, asook ’n graf min of meer ooreenkomstig die beskrywing daar gevind.

Die begraafplaas is op privaat grond. Ons was destyds onseker hoe om te werk te gaan om uit te vind of daar werklik goue ponde begrawe is. Ekself, en ek vermoed ook die ander man met wie ek intussen kontak verloor het, het nie weer pogings aangewend om die goue ponde op te spoor nie.

Soos so dikwels vantevore en ná die berig in Die Pos wonder ek steeds of daar werklik goue ponde in een van daardie grafte begrawe is en wat die wetlike vereistes is indien ’n mens daarna gaan soek, asook wie almal sal kan aanspraak maak op daardie ponde indien dit wel gevind word.

Related Articles

Back to top button