Letters

Brief: Afrikaanse Bybel vier 90 jaar met beeld van Die Saaier

Die FAK het ook ’n nuwe beeld, Die Saaier, deur Jacques Mϋller bekendgestel wat aan die Bybelgenootskap geskenk is.

Ds. Cassie Aucamp, Voortrekkermonument-direksielid en verteenwoordiger van die Bybelgenootskap, skryf:

“Welkom dierbaar Woord van God, Lig in al ons lewenslot … ” lui die woorde van die feeslied waarin die wonder van die Woord in Afrikaans gevier word.

Duisende mense het op Sondag 27 Augustus in die Voortrekkermonument (VTM) se senotaafsaal byeengekom om saam met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Bybelgenootskap van Suid-Afrika ’n dankdiens te hou vir die 90ste bestaansjaar van die Bybel in Afrikaans.

Tydens die 90-jaar-vieringe het die Bybelgenootskap ook Bybels aan verskeie skole oorhandig om die spreekwoordelike fakkel van geloof aan ’n volgende geslag te oorhandig. Dit was spesiaal dat agt mense wat saam met die Afrikaanse Bybel in 1933 gebore is, ons eregaste kon wees en Bybels aan ’n volgende geslag kon oorhandig.

Wanneer ’n mens besin oor die belangrikheid van ’n Bybel in eie taal sal die antwoord dalk vir almal verskil, tog voel ek dit is belangrik om vir dr. J.D. du Toit (Totius), eindvertaler van die 1933-Afrikaanse Bybel, aan die woord te stel:

“Alleen wat vir ons volkome duidelik is, wat met ons heeltemal siels-een is. Tussen die Woord van God en die siel moet daar ’n intimiteit bestaan wat alleen verkry kan word deur die toespraak en inspraak van die lewende moedertaal.”

In 1941 word die nuwe groot hoofstuk van die Bybelgeskiedenis geskryf met die verskyning van die eerste Braillebybel in Afrikaans. ’n Hersiende vertaling van die Bybel word in 1953 bekend gestel en 30 jaar later sien die nuwe- (1983) vertaling van die Afrikaanse Bybel die lig. Tydens die eeufeesvieringe van die Bybelgenootskap word daar besluit om ’n moderne vertaling van die Bybel uit te gee en word die 2020-vertaling in Bloemfontein bekend gestel.

Vandag is die Bybel in al 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale beskikbaar.

Tydens die 90-jaar-viering het verskeie sprekers soos dr. Danie Langner (FAK en VTM), ds. Dirk Gevers (Wêreldbond van Bybelgenootskappe), dr. Masenyani Baloyi (hoof van vertaling by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika) en dr. Theuns Eloff (Trust vir Afrikaanse onderwys) verskeie gesprekke gevoer oor die ontstaan van die Bybel in Afrikaans en die bydrae van die Bybel tot Afrikaans as taal.

Die FAK het ook ’n nuwe beeld, Die Saaier, deur Jacques Mϋller bekendgestel wat aan die Bybelgenootskap geskenk is.

Die Bybel en veral Jesus self gebruik dikwels die saaier as beeld van die uitstrooi van die saad van die Woord in gelykenisse soos dié van die saaier, die selfgroeiende saad en die saad tussen die onkruid. Die Woord self word met saad vergelyk omdat lewe daaruit spruit.

Daarom is die Bybelgenootskap se beeld van die saaier dié van ’n persoon met uitgestrekte arm wat die saad uitstrooi.

Related Articles

Back to top button