Letters

Brief: Baie dankie aan dié twee engele

Ek wou nog iets sê, toe maak dié man ons almal se sweterige en bewende hande bymekaar en steek net daar, langs die besige Vaalwater-pad, vir ons die mooiste gebed af.

Maureen Neethling, Kokanje, Modimolle, skryf:

Voetjie vir voetjie het my twee dogters my met my loopkarretjie oor die klipperige paadjie gehelp na die motor ná ’n heerlike middagete by Lilies & Limes Country Lodge net buite Modimolle.

Op pad kar toe wou mense verby ons kom om vinniger by hulle voertuig uit te kom. Ek het nog so ewe skertsend opgemerk: “Kom ons kyk hulle eers deur voordat ons plek maak vir hulle!”

Maar dit is toe juis met die inklimslag in my dogter se voertuig dat die blinde sambok my bykom.

Ek sit die sitplek mis en daar hang ek tot almal se ontsteltenis soos ’n vlermuis in die lug — kan nie vorentoe of agtertoe nie. My een dogter gee bevele vir die ander een (wat van skok net wyd staan en lag), want “as Ouma vandag val, is daar groot skade”.

Al wat ek kon doen is om te vra dat hulle asseblief tog ’n man moet roep om ons te kom help en uit die bloute verskyn daar ’n gespierde man met tatoeermerke wat tot ons redding kom. Iemand hou vas, nog een stoot van agter en ’n vreemde vrou spring by die bestuurderskant van die voertuig in om ook hand by te sit en my op die sitplek te probeer trek.

My dogter en die gespierde, vreemde man gee vir mekaar bevele en dis net hande en arms en my twee lam bene. Hulle vervat kort-kort hulle greep om my nie seer te maak nie.

Toe ek uiteindelik my sit kry, kon ek net floutjies die vreemdelinge bedank. “Met dié sê die vrou vir my dat die man wat my gehelp het, boonop ’n pastoor is.

Ek wou nog iets sê, toe maak dié man ons almal se sweterige en bewende hande bymekaar en steek net daar, langs die besige Vaalwater-pad, vir ons die mooiste gebed af.

Hy dank die Here vir hierdie dag, vir Sy goedheid en hy vra die seën op my kinders, op my en ons almal se lewens.

Ek weet nie of ek ná dese sommer gou weer vir middagete genooi sal word nie, maar wat ek wél weet, is dat ek agterna só diep geseënd gevoel het dat dié vreemde man en vrou juis op daardie tydstip my gesin se pad gekruis het.

Baie dankie en mag dieselfde oorvloedige seën ook op julle rus.

Related Articles

Back to top button