Letters

Brief: Daar ís beslis hulp vir depressielyers

Depressie is baie meer as net ’n gevoel van onverklaarbare hartseer of ’n baie lae gemoedstoestand.

Louise Zietsman, Huis Elpidos, Modimolle, skryf:

Die samelewing is onlangs wêreldwyd tot in sy fondamente geskud ná die moord deur dr. Lauren Dickson van New Zeeland op haar drie jong dogtertjies.

Die tragiese gebeure het opnuut die kollig laat val op die effek van geestesgesondheid op die hedendaagse mens.

Depressie is baie meer as net ’n gevoel van onverklaarbare hartseer of ’n baie lae gemoedstoestand. Tydens depressie sal nie net jou gemoed baie laag voel nie, daar sal ook ander simptome inmeng met jou daaglikse aktiwiteite. Dit kan tot ’n verskeidenheid emosionele en fisieke probleme lei wat ’n mens se vermoë om optimaal by die skool of die werk te funksioneer, erg belemmer.

Depressie is soos die meeste ander geestesversteurings ’n chemiese wanbalans van die brein. Navorsing bewys dat die neuro-transformators in die brein uit balans is en dit word veroorsaak deur ’n kombinasie van genetiese-, psigologiese- asook oorerwings- en omgewingsfaktore.

Major depressie veroorsaak ernstige probleme wat inmeng met jou werk, slaap, studies, eetlus en die manier waarop jy die lewe geniet.

Psigotiese depressie word gekenmerk deur ’n uiters depressiewe gemoedstoestand, asook sekere vorme van psigose. Psigose is wanneer ’n persoon tred met die werklikheid verloor en terselfdertyd ook delusies en hallusinasies ervaar en dinge sien, hoor en beleef wat nie deur ’n gesonde mens ervaar word nie.

Post-partum depressie word deur 10 tot 15 % moeders ervaar nadat hulle geboorte aan ’n baba geskenk het. Dit vind plaas wanneer hormonale en fisieke liggaamsveranderinge plaasvind en die moeder oorweldig word deur die verantwoordelikheid om die pasgebore baba te versorg.

Seisoenale depressie of Seasonal Affective Disorder (SAD) neem gewoonlik in aanvang aan die begin van die wintermaande, wanneer daar minder natuurlike sonlig is. Dit verdwyn gewoonlik met die aanbreek van die lente.

Depressie by tieners vind gewoonlik plaas voor die ouderdom van 15 jaar en dit ontwikkel ewekansig onder seuns en meisies. Ná die ouderdom van 15 jaar ervaar meer meisies ’n episode van major depressie.

Simptome om op ag te slaan by tieners:

  • ’n Onverklaarbare gevoel van verlies of hartseer;
  • geïrriteerdheid;
  • negatiewe gevoelens;
  • gevoel van waardeloosheid;
  • woedebuie;
  • swak skolastiese prestasie;
  • swak skoolbywoning;
  • gevoel dat hul misverstaan word;
  • uiterste emosionele sensitiwiteit;
  • drank- of dwelmmisbruik op skool;
  • oormatige eet- en slaappatroon;
  • selfmutilasie (sny);
  • verloor belangstelling in normale aktiwiteite;
  • vermy sosiale interaksie met vriende.

Depressie by tieners vind gewoonlik plaas is samewerking met ander geestesversteurings soos angstigheid, eetversteurings soos bulimie en anoreksie, asook substansie-verslawing (drank- of dwelmmisbruik). Tienerdepressie ly ook tot verhoogde risiko van selfdood.

Praat met jou ouers, vriende of onderwyser en maak ’n afspraak met jou huisdokter wat vir jou die nodige medikasie sal voorskryf om die simptome van depressie te verlig. Hy of sy kan jou ook na ’n sielkundige en of psigiater verwys vir ondersteunende terapie.

  • By Huis Elpidos in Modimolle word pasiënte wat aan skisofrenie en bi-polêre gemoedsversteuring ly, voltyds versorg. Skisofrenie is ’n degeneratiewe siekte van die brein waaraan sowat 1% van die bevolking wêreldwyd ly en alhoewel ongeneeslik, is dit ’n behandelbare geestessiekte. Die simptome word met die daaglikse gebruik van anti-psigotiese medikasie beheer om lyers in staat te stel om ’n redelike normale lewe te kan voer.

RED ’n LEWE en kontak SADAG (The South African Depression and Anxiety Group) by die webwerf: www.sadag.org of by tel. 0800  21 22 23.
Kontak Louise Zietsman by Huis Elpidos oor navrae oor skisofrenie en bi-polêre gemoedsversteuring by tel. 082 335 6272.

Related Articles

Back to top button