Letters

Brief: ’n Vrou se waarde is ver bo dié van korale

Dit is ’n voorreg en ook ’n verantwoordelikheid, want ’n moeder is die hoeksteen van haar gesin.

Met Vrouemaand wat gevier word, deel Corlia Branders, nou Roelofse, vanuit haar nuwe woning in Tzaneen, die volgende met Die Pos se lesers:

Dit is vir my wonderlik om ’n vrou te wees — ’n ma, dogter, vriendin wat sagkens met die mense wat my pad kruis omgaan.

Dit is ’n voorreg en ook ’n verantwoordelikheid, want ’n moeder is die hoeksteen van haar gesin.

’n Ma kan ’n kind se potensiaal en bydrae tot die samelewing ontgin óf onderdruk. ’n Vrou kan haar man opbeur óf afbreuk. ’n Dogter kan haar ouers respekteer óf ondermyn. ’n Vriendin kan ’n ander se lot besing óf haar kroon laat afval. Sy is die “crescendo” van die Skepping, maar kan ook die mag van baie tot ’n val bring.

As ek aan vrouwees dink, wil ek graag hê my nalatenskap moet soos die persoon in die Bybel wees wat vyf talente ontvang het en dit verdubbel het. (Mattheus 25:14-30). Ek sal graag wil hê dat die Here tevrede moet wees hoe ek my verhoudings gekoester het, vir my kinders gebid het, my gesin versorg het, my werk met ywer aangepak het en boonop al die gawes wat Hy aan my toevertrou het, verdubbel het.

My wens vir elke vrou is om ’n seisoen in te gaan om haar unieke gawes te ontdek en uit te leef in elke gebied van haar lewe sodat ons stuk-stuk die lewe kan versier en die omgewing se skoonheid kan ontsluit deur ons dade.

Om minder te praat en meer te doen, om minder te vrees en meer te bid, om minder te vergelyk en meer dankbaar te wees. Elkeen is spesiaal geskape. Jy is meer werd as edelstene.

Related Articles

Back to top button