Letters

Brief: Polisiegeneraal wys waar sy prioriteite lê

Khan se teenwoordigheid wys onomwonde sy noue bande met die EFF.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -leier, skryf:

Dit is uiters kommerwekkend dat ’n polisiegeneraal, wat tweede in bevel is van misdaadintelligensie, glo by ’n dinee saam met ’n vermeende rampokker aan ’n tafel gesit het.

Ek verwys na die dinee van die EFF waarvan die leier, Julius Malema, mense die naweek weer aangehits het om boere te vermoor.

Dié optrede van genl. maj. Feroz Khan is skandelik en ’n klap in die gesig van alle Suid-Afrikaners wat met wydverspreide misdaad en korrupsie worstel. Dit laat ook wesenlike vrae ontstaan oor die polisie se erns oor plaasmoorde.

Khan was luidens mediaberigte op Donderdag 27 Julie ’n gas op ’n glansdinee in Ekurhuleni ter viering van die EFF se tiende bestaansjaar. Hy het ’n tafel gedeel met die omstrede tabakbaas Adriano Mazzotti.

Khan se teenwoordigheid is waarskynlik ook tekenend van Malema se klaarblyklike mening dat hy bo die reg verhewe is aangaande sy uitsprake wat rassehaat en moord op boere aanhits.

Pas nadat die Johannesburg-hooggeregshof bevind het die Menseregte Kommissie (MRK) was verkeerd met sy bevinding dat Malema nie die wet oortree het met sy uitsprake dat wittes nie “nou al” vermoor moet word nie, het Malema op Sondag 30 Julie voor ’n volgepakte FNB-stadion weer die lied “Kill the farmer” gesing. Dit wys sy minagting vir die hof se uitspraak.

Khan se teenwoordigheid wys onomwonde sy noue bande met die EFF. Benewens die boodskap wat dit aan Suid-Afrikaners oor misdaad stuur, is dit ook minagtend en gevoelloos teenoor slagoffers van misdaad.

Sy sosialisering met Mazzotti versterk die vermoede dat misdaadintelligensie korrup is en deel vorm van misdaadsindikate.

Hy verklaar ook sy politieke voorkeur wat ongewens is vir senior bestuurslui van die polisie. Dit kan daartoe bydra dat ondersoeke na die EFF verydel word. Die minister moet ’n gedragskode daarstel wat sulke optrede verbied.

Vir die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, om Khan se optrede goed te praat deur te sê die polisie is ’n apolitiese organisasie, is onvanpas en kortsigtig.

Die polisie kan hom nie so maklik distansieer van Khan se optrede as die persoon wat tweede in bevel staan van ’n eenheid soos misdaadintelligensie nie.

’n Mens word aan jou vriende geken en wanneer jou vriendekring mense insluit wat na bewering by misdaad betrokke is en wat moord en rassehaat aanjaag, moet die rooi ligte flikker.

Ek sal vrae in die parlement hieroor vra aan die minister van polisie, Bheki Cele, asook die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola. Die polisie moet sê of hy hom met mense soos Mazzotti en Malema vereenselwig.

Related Articles

Back to top button