Letters

Brief: Vordering met rioolkrisis in Limpopo ná gedurige druk

Beamptes van die Sekhukhune-distriksmunisipaliteit, Mogalakwena- en Lephalale-plaaslike munisipaliteite is aangekla.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LPW en provinsiale leier: Limpopo, skryf:

Dit blyk dat daar danksy die optrede van die VF Plus uiteindelik vordering is met die voortslepende rioolbesoedeling van waterbronne in Limpopo.

Die besoedeling word veroorsaak deur swak munisipale bestuur in verskeie Limpopo-dorpe. Die VF Plus het deurlopende druk op provinsiale vlak geplaas om iets aan die probleem te doen.

Luidens berigte het die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, ’n strafregtelike klag ingedien teen drie munisipale rekenpligtige beamptes in Limpopo oor die storting van afvalwater in riviere.

Beamptes van die Sekhukhune-distriksmunisipaliteit, Mogalakwena- en Lephalale-plaaslike munisipaliteite is aangekla.

Die VF Plus veg sedert 2019 teen die voortslepende rioolkrisis. Die party het onder meer in Julie 2019 die munisipaliteite van Thabazimbi en Modimolle-Mookgophong, asook die Waterberg-distriksmunisipaliteit, van ernstige menseregtevergrype by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) verkla.

Die party het ook in Maart vanjaar ’n strafregtelike klag teen die verantwoordbare amptenary van die Vhembe-distriksmunisipaliteit (Musina, Makhado) in dié verband geopen.

’n Maand later, in April, het die party in Lephalale aksie geneem wat betref die jarelange rioolprobleem en ook daar ’n klag by die MRK ingedien.

Op munisipale vlak het die party in Julie vanjaar onder meer ’n dringende skrywe aan die Polokwane-plaaslike munisipaliteit gerig om onmiddellik die Seshego-rioolsuiweringsaanleg buite Polokwane te besoek en ’n werkbare oplossing te vind vir riool wat vanuit die aanleg in die Bloedrivier stroom.

Rioolsuiweringsaanlegte in die volgende dorpe sal ook binnekort aandag geniet: Thabazimbi, Northam, Rooiberg, Modimolle, Mookgophong, Musina en Makhado.

Limpopo is ’n provinsie waar water skaars is en die ongebreidelde besoedeling van waterbronne en ’n ongesonde omgewing om in te woon, kan nie toegelaat word nie.

Die VF Plus sal sy druk volhou om toe te sien dat inwoners van Limpopo se grondwetlike reg om in ’n skoon en veilige omgewing te leef en werk, eerbiedig word.

Related Articles

Back to top button