Letters

Brief: Owerheid moet wakker skrik oor trokaanvalle

Die vlaag aanvalle op vragmotors en vragmotorbestuurders in Suid-Afrika is nie ’n nuwe verskynsel.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -leier, skryf:

Die vlaag aanvalle op vragmotors en vragmotorbestuurders in Suid-Afrika is nie ’n nuwe verskynsel.

Dit was ook die voorloper vir die onrus en plundering in 2021 in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Volgens adj.pres. Paul Mashatile en die minister van polisie, Bheki Cele, weet die intelligensiedienste wie agter die aanvalle skuil. Dit laat die vraag ontstaan waarom daar nie onmiddellik opgetree word nie.

Die indruk word sodoende geskep dat die betrokkenes moontlik verbintenisse het met mense in hoë posisies en dat polisie-optrede hulle sal ontbloot.

Pres. Cyril Ramaphosa was vinnig om te sê dat die aanvalle niks anders as ekonomiese sabotasie is nie. Dit is baie ernstig en sou sekerlik die strengste optrede vereis.

Soos gewoonlik sê die president die regte goed, maar die optrede ontbreek.

Ek sê deurentyd in my toesprake in die parlement dat straffeloosheid een van die groot redes is waarom misdaad in Suid-Afrika buite beheer is.

Die huidige situasie volg dieselfde onrusbarende patroon as met die uitgebreide onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng in 2021, wat ook begin het met aanvalle op vragmotors.

Cele sê hy weet wie die mense agter die aanvalle is. Die VF Plus eis daarom dat daar onmiddellik opgetree word voordat die situasie heeltemal buite beheer raak.

Related Articles

Back to top button