Letters

Brief: Nasionale dialoog oor koalisies is nodig

Koalisieregerings in Suid-Afrika is nuut en dit is ’n leerkurwe vir politici aan die een kant, maar ook vir kiesers om te verstaan hoe koalisies werk.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -leier, skryf:

Die vergadering wat adjunkpres. Paul Mashatile op Vrydag 30 Junie met politieke leiers gehou het oor die daarstel van nasionale dialoog oor koalisies in Suid-Afrika, was noodsaaklik.

Die rede is dat koalisieregerings in Suid-Afrika nuut is en dit ’n leerkurwe is vir politici aan die een kant, maar ook vir kiesers om te verstaan hoe koalisies werk.

Wat wel ’n probleem kan wees, is die ANC-regering se voorneme om wetgewing betreffende koalisies te vestig met ’n agenda om homself te bevoordeel.

Die VF Plus is nie gekant teen wetgewende hervormings om meer stabiliteit te verseker nie. Die probleem is dat die ANC sodoende die proses wil manipuleer om aan bewind te bly.

’n Voorbeeld hiervan is dat die ANC daarna mik om die land se kiesstelsel te verander deur die daarstel van ’n kiesafdeling-kiesstelsel teenoor die huidige proporsionele kiesstelsel.

Ek het reeds hierteen gewaarsku aangesien ’n kiesafdeling-stelsel daartoe kan meehelp dat die ANC aan bewind kan bly al het hy die minderheid van die stemme.

Met ’n kiesafdeling-stelsel is die deurslaggewende faktor die aantal kiesafdelings wat ’n party verower en nie die aantal stemme nie.

Die ANC wil ook wetgewing hê wat verseker dat die president gekies moet word uit die grootste party in ’n koalisie. Die VF Plus verskil hiervan en is van mening dat die mees geskikte persoon op meriete aangewys moet word as president.

Wat die president betref, is die VF Plus se standpunt ook dat die kiesstelsel gewysig kan word om voorsiening te maak vir die verkiesing van ’n president in ’n afsonderlike proses deur die kiesers en nie uit die parlement soos tans nie.

Dit sal ’n belangrike verskil maak om ’n persoon aan te wys wat direk verantwoordbaar staan teenoor die mense van Suid-Afrika.

Die VF Plus sal deelneem aan die proses en dialoog oor koalisies, en sal sy standpunte daar oordra.

Dit is veral belangrik om te voorkom dat die ANC wetgewing daarstel, wat net homself bevoordeel.

Related Articles

Back to top button