Letters

Brief: Klein skooltjie met ’n groot hart

Die doelstellings van Laerskool Tuinplaas is om gehalte bekostigbare onderwys aan al ons leerders te lewer, gebasseer op die riglyne van die Woord en met erkenning aan die almag van God.

Retha Weir, Tuinplaas, skryf:

Laerskool Tuinplaas word aanstaande jaar 70 jaar oud word, maar die departement van onderwys se beleid op die verhouding tussen die aantal leerders en aantal onderwysers sal klein plaasskooltjies soos Laerskool Tuinplaas se dood beteken.

Laerskool Tuinplaas is in 1954 gestig toe vyf klein skooltjies in die omgewing saamgesmelt het. Die skoolterrein bestaan uit 34,4 ha wat die polisiestasie en nou geslote poskantoor insluit.

Die grond is in 1951 by ene MG Odendaal gekoop. In November 1953 is daar begin met die messelwerk en die bouwerk is voltooi voordat Tuinplaasskool op 12 Januarie 1954 met 73 leerders geopen het. Die volgende dag het 15 leerders ingeskryf.

Aangesien dit ’n plaasgemeenskap was en plase ver uitmekaar was, was busvervoer ’n noodsaaklikheid en is die leerders tot so ver as 60 km aangery skool toe.

Daar is vroeg besluit dat die grond nie uitgehuur mag word nie, maar dat die ouers en skoolkommissie dit mag bewerk mits die opbrengs van die oeste daarvan in die skoolfonds gestort word.

Hierdie besluit het oor die jare ’n bron van inkomste aan die skool gelewer. Ouers het jaarliks die lande bewerk, geplant en geoes en ook die nodige diesel, saad, kunsmis en onkruiddoder geskenk. Ander fondsinsamelingsprojekte oor die jare het ’n jaarlikse gholfdag, tarentaaljag, modeparade en familie-visvangdag ingesluit.

Die ouers het in 1992 op die model C-skoolopsie besluit, met die gevolg dat die skool die bykomende onderwysposte self moes betaal. Die verhouding tussen die aantal onderwysers en leerders het ook met die jare aansienlik verander en het groter druk op die ouers geplaas. Die ouers het besef dat die skool se voortbestaan in hulle hande rus. Aangesien daar nog altyd min kinders in die skool was, is klasse opgedeel met twee of meer grade in een klas. Danksy die ouers se bydraes was daar genoeg onderwysers by die skool.

In September 1992 is die geboue en terrein amptelik oorgedra aan Laerskool Tuinplaas met die gevolg dat die skool self verantwoordelik gehou is vir instandhouding en dienste. Dit het bykomende uitgawes meegebring.

Nog twee skole — Motlhaping en Sekatekare — het in 2018 by Laerskool Tuinplaas aangesluit en die skool het ’n parallelmedium skool geword. Die departement van onderwys het tot 2022 twee voltydse en een ad hoc-pos, asook ’n onderwysershulppos (teachers aid) aan die skool voorsien, maar twee van die onderwysers het aftree-ouderdom bereik en die poste is nie weer deur die departement gevul nie.

Daar is tans 42 kinders in die skool. Sowat 60% van die skool bestaan uit plaaswerkers se kinders. Slegs 16 kinders in die skool kan tans bydra tot die skoolfonds. Daar is twee klasse vir die grondslagfases (gr. R tot 3), een vir Afrikaans en een vir die Sepedi/Engels-medium van onderrig en ook twee klasse vir die intermediêre/senior fases (gr. 4 tot 7).

Die huidige verhoudingsbeleid tussen leerders en onderwysers bepaal dat slegs een onderwyser voldoende is vir al die leerders. Ná baie onderhandelinge en gesprekke het die departement ingestem om ’n beurshouer by die skool te plaas en hulle is verantwoordelik vir die salaris. Dit bring mee dat die departement volstaan met twee onderwysers vir gr. R- tot gr. 7-onderrig in verskillende mediums van onderrigklasse.

Die doelstellings van Laerskool Tuinplaas is om gehalte bekostigbare onderwys aan al ons leerders te lewer, gebasseer op die riglyne van die Woord en met erkenning aan die almag van God.

So was dit in die verlede en so sal die huidige bestuurspan poog om dit in die toekoms te handhaaf.

Gemeenskapbetrokkenheid is van kardinale belang om te verseker dat standaarde gehandhaaf word. Dit geld nie slegs finansiële ondersteuning nie, maar veral die betrokkenheid om die waardes en norme te weerspieël in die onderwys en opvoeding van ons land se kinders.

Laerskool Tuinplaas se visie is om kennis, vaardighede en waardes in Suid-Afrikaanse skole te leer. In hierdie verband bevorder die kurrikulum kennis in die plaaslike konteks. Die skool het egter nog altyd ’n unieke karakter gehad waar leerders kon kind wees en kaalvoet buite speel.

Om hierdie tradisie voort te sit moet ons as beheerliggaam genoeg geld insamel om nog twee permanente onderwysers aan te stel.

Alle hulp, raad en ondersteuning in die verband sal hoog op prys gestel word. Kontak my gerus by tel. 082 901 9769 of per e-pos by retha@hanlinlodge.co.za(.)

Related Articles

Back to top button